Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Die groter storie agter die ‘klein’ getal leeus

AS jy een van die Suid-Afrikaanse burgers is wat die Addo-olifant Nasionale Park in Sanparke se gratis-toegang week (16 tot 20 November) gaan besoek, moet jy ’n spesiale oog oophou vir dié park se leeus en hiëna’s. Want agter die skerms word daar hard gewerk om hul gesondheid en getalle op koers te hou.

Dr. Dave Zimmerman, Addo-olifantpark se veearts, ondersoek Jack, een van die park se leeus, nadat die leeu se op- sporingshalsband van sy nek afgehaal is.

Onlangs was dit juis tyd vir “operasie versorging” en is die media saamgenooi.

Die eerste leeu wat verdoof was, is Jack die leeumannetjie, sodat die opsporingshalsband om sy nek afgehaal kon word. Die rede hiervoor is dat Jack redelik gebiedsgebonde is in die noordelike deel van die Addo-hoofkamp, het dr. Dave Zimmerman, Addo-park se veearts, verduidelik.

Dit is nogal hartseer om Jack só op sy eie te sien, want hy het altyd met Jill, sy suster, rondbeweeg. “Jill het spoorloos verdwyn tydens die strenger fases van die grendeltyd. Ons het net haar halsband geskry,” sê Fayroush Ludick, Sanparke se streekskommunikasiebestuurder.

Benewens Jack, kan besoekers die Addo-leeuwyfies dophou om te probeer vasstel watter wyfies op die “pil” is en watter nie. ’n Goeie leidraad is dat die wyfies, aan wie voorbehoedmiddels toegedien is, geneigd is om gewig aan te sit.

Drie van die vier volwasse leeu-wyfies is onlangs ook verdoof waarna ’n voorbehoedmiddel per inspuiting aan hulle toegedien is. Dit word só gedoen sodat drie van die volwasse wyfies nie vrugbaar is nie, maar die vierde een wel.

“Na die uitwerking van die middel – dit hou gemiddeld twee tot drie jaar - neem dit ses na sewe maande voor die wyfie weer dragtig raak,“ het dr. Zimmerman verduidelik.

Die leeuwyfies van die Addo- olifantpark word die afgelope nege jaar voorbehoedmiddels toegedien sodat die park se leeugetalle op nagenoeg 12 gehou kan word. Voorheen is die voorbehoedmiddel ook aan mannetjies toegedien, maar dit is gestaak, omdat die mannetjies se laer testosteroonvlakke tot gevolg het dat hulle hul maanhare verloor, het dr. Zimmerman gesê

In 2004 is ses leeus uit die Kagalagadi-oorgrenspark na die Addo-park oorgeplaas en in ’n stadium was daar volgens Zimmerman tot 20 leeus. “Maar ons kon die getalle gelukkig weer afbring.”

Die voorbehoed-program van die Addo-leeus het in 2011 begin. Die totale grootte van die Addo-park is 1 640 km², tog moet die leeugetalle op 12 gehou word omdat die park “gefragmenteerd” is in verskillende gebiede, soos Colchester en Woody Cape aan die kusgedeelte, en ook die Darlington-dam en Zuurberg gedeeltes. Voorts word die Addo-hoofkamp, waar ses van die park se leeus voorkom, deur ’n spoorlyn van die Nyathi-kamp, waar die ander vyf leeus voorkom, geskei.

Die ideale balans tussen predatoor en herbivoor is noodsaaklik. Die omstan-dighede in die Addo-park is egter ideaal vir die leeus om fluks aan te teel.

Dr. Zimmerman verduidelik: “Weens die omheinings kan die herbivore nie na ander gebiede vlug of heeltemal wegtrek nie. Daar is ook nie ge-vaar van leeumannetjies wat van buite ’n trop oorneem en die welpies doodmaak nie. In die kleiner parke oorleef die meeste welpies, terwyl die fataliteite baie hoër is in oop ekosisteme.”

Een werpsel kan wissel tussen een tot ses welpies, wat dit volgens dr. Zimmerman ‘n interessante aspek van leeubestuur maak. “ ‘n Mens weet nooit hoe groot die werpsels sal wees nie. As jy byvoorbeeld ‘n werpsel van vyf vrou-like welpies kry, moet jy vinnig plan maak voordat hulle die leeugetalle verder opstoot.”

Net soos die leeus, moet die hiënas – ook predatore – se getalle binne perke gehou word om die balans tussen predatoor en herbivoor te behou.

Met die 2019 Kirkwood Wildsfees het die eerste tien hiënas onder die hamer gekom. “Dit was ongelooflik hoe die mense gebie het. Ons het R25 000 per hiëna gekry,” het Nick de Goede, be- stuurder van die Addo-olifantpark, verduidelik. “As ons nie die hiëna-getalle beheer nie, sal die wild binne die omheining opgevreet word. Hulle is nie net aasdiere soos wat meeste mense dink nie, maar ook jagters. Maar hulle vervul ook ’n ongelooflike goeie rol vir ons binne die park. Hulle help byvoorbeeld om die koedoegetalle in die park onder beheer te hou.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.