Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
‘Gedagtes is magtig, dit maak jou wie jy is’

“AS môre sonder my begin, dan weet ek, ek het geleef vir vandag!”

Adam Saaiman. Foto: HEILIE COMBRINCK

Met woorde soos dié gryp Adam Saaiman ’n mens só aan dat die rolstoel waarin hy sit, “verdwyn.”

’n Reeks gesondheidsterugslae het daartoe gelei dat sy bene in 2018 geamputeer moes word. Maar, voor ons by die aanloop tot dié lewensveranderende ingryping kan kom, deel Adam eers van die wyshede wat hom destyds gemotiveer het om sy lewe weer volwaardig aan te pak:

“Dale Carnegie het gesê ’n mens se geestes-houding, jou denke, jou attitude, is die x-faktor wat jou lewenslot bepaal. As ek geweet het wat jy dink, sou ek geweet het wie jy is.”

“Ek is hartlik daarvan oortuig dat ons enigste probleem in die lewe, en dit waarmee ons worstel, is hoe om die regte gedagtes te kies.

“Die lewe is wat ons denke daarvan maak. Norman Vincent Peale is bekend vir sy woorde: “Jy is nie wat jy dink jy is nie, maar wat jy dink, dit is jy.”

Om terugslae positief te pak

In 1973, op Adam se troudag, verloor hy die gebruik van sy bene weens ’n vreemde siekte wat hom spasmodies verlam.

“Na etlike maande in die hospitaal word ek ontslaan met die woorde: ‘Ons het ons mediese bes probeer, jy sal nie weer jou bene normaal kan gebruik nie. Jy sal ortopediese skoene en elmboogkrukke nodig hê.’

“Verbystering en skok het my sprakeloos gehad. Ek was jonk, onervare en moes die jong meisie in my lewe tyd gee om te besluit of sy die huwelikslewe met ‘n gestremde wou deel. Dinah het ingestem. Sy het my grootste steunpilaar geword. In Junie 2020 is ons al 47 jaar getroud.“

Maar tog het dit vir Adam destyds gevoel sy lewe is erg ontwrig en ingekort. Hy het sy omstandighede as uiters negatief en moeilik ervaar.

“Ek het besef my geestestoestand was uiters negatief en dat ek drasties moet verander as ek sou wou oorleef. En toe besluit ek om my te omring met mense wat meer lewenservaring en wysheid het as ekself.

“Ek was bevoorreg om wyle Emeritus Eerwaarde Jacob Navan Adonis as geestelike leier en boesemvriend te hê.

“Die ander vriend en ondersteuner is Leon Barends, diaken en plaasboer, wat self mislukkings en terugslae moes oorkom en die lewe weer op positiewe wyse aan te pak.

“Leon het my geleer om nie munt te slaan uit winste nie - enige een kan dit doen - die werklike belangrike ding in die lewe was om munt te slaan uit my verliese.”

Leer by dié wat wéét

In 1997 is Adam met kanker gediagnoseer.

Opstandigheid en vrees het soos ’n rots op sy bors kom lê, sê Adam, want vir hom voorspel kanker die dood, meer ongemak en pyn.

“My chemo- en bestraling-besoeke het ek gebruik om met mense te gesels oor hul uitdagings weens kanker. Hoe hulle dit verwerk en oorkom het. Dit het my baie gehelp om my eie situasie meer positief te benader om dit ook te kon oorleef.”

Nóg terugslae het hom egter later getref. In November 2017 breek hy sy linkerbeen na ‘n slegte val by die huis en in Januarie 2018 word albei sy bene, 14 dae uit mekaar, geamputeer.

“Sjoe! Dit was bitter moeilik, maar ek het dit oorleef, danksy my positiewe geesteshouding en denke.

Toe kom COVID-19

Selfs die dapperes was angstig toe COVID-19, ’n onbekende virus met ongekende nagevolge, die wêreld laat steier het.

“Dit was skrikwekkend naby - my dogter het dit gekry én daarvan herstel. Maar weereens, namate jy jou gedagtes oor dinge en mense verander, verander jy vrees in hoop.

Alles wat ’n mens bereik, is ’n regstreekse gevolg van jou eie gedagtes. Jy kán opstaan. Jy kán oorwin, solank jy jou gedagtes verhef bó gebeure wat jou negatief raak.

Adam deel graag

Saaiman deel graag die volgende 10-punt lewensplan van Sybil F Partridge – “Net vir Vandag”:

1. Net vir vandag sal ek gelukkig wees. Abraham Lincoln het gesê “’n mens is net so gelukkig as wat jy besluit om te wees.” Geluk kom van binne, dis nie ‘n kwessie van buite- of eksterne omstandighede nie.

2. Net vir vandag sal ek probeer aan te pas by wat is en nie probeer om alles by my begeertes aan te pas nie. Ek sal my gesin, my werk, en geluk aanvaar net soos dit is en daarby aanpas.

3. Net vir vandag sal ek my liggaam versorg. Ek sal oefeninge doen, dit versorg, voed, en dit nie misbruik of verwaarloos nie.

4. Net vir vandag sal ek my verstand versterk. Ek sal iets nuttigs leer. Ek sal nie ’n geestelike luiaard wees nie. Ek sal iets lees wat moeite, denke en konsentrasie verg.

5. Net vir vandag sal ek aangenaam wees. Iemand ’n guns bewys sonder dat hy/sy daarvan weet.

6. Net vir vandag sal ek probeer om deur hierdie dag te leef en nie om my hele lewensprobleem op een dag aan te pak nie.

7. Net vir vandag sal ek nie bang wees nie om gelukkig te wees.

8. Net vir vandag sal ek ’n stil halfuur alleen deurbring. In hierdie halfuur sal ek ontspan en aan God dink, sodat ek meer perspektief op my lewe kan kry.

9. Net vir vandag sal ek neerskryf wat ek verwag om elke uur te doen. Ek sal dit nie presies volg nie, maar ek sal dit neerskryf en dit sal haas en besluitloosheid uitskakel.

10. Net vir vandag sal ek bedagsaam en aangenaam wees. Ek sal so goed lyk as wat dit vir my moontlik is. Ek sal saggies praat, beleefd optree, vrygewig met lof, glad nie kritiseer nie, ook nie fout vind met enigiemand of enigiets nie. Ek sal ook nie enigiemand probeer beheer of verbeter nie, net myself.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.