Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Geloof, harde werk nog altyd sy ankers
Stanley Japtha (90). INLAS: Die foto van Stanley Japtha by Uitenhage Hoërskool. Foto’s:HEILIE COMBRINCK

SOOS die bome bo die Uitenhage Hoërskool se drieverdieping skoolgebou uittroon, só het talle leerders onder oud-skoolhoof Stanley Japtha se leiding, hoë mylpale in hul lewens bereik.

“Ek het elkeen van daardie bome met my eie hande geplant. Kyk waar staan hul toppe nou,” sê Japtha terwyl ons na die skool se voorportaal stap.

Daar aangekom, word hy openhartig verwelkom.

Selfs jonges wat lank na sy aftrede die skoolbanke verlaat het, kom nader om te groet. Dis aandoenlik om die groot respek vir hierdie oud-meester eerstehands te beleef.

“Harde werk. Dit is al resep vir sukses. Daar is geen plaasvervanger vir toewyding en eerlike harde werk nie.

“Ek was lief vir werk en dit het my ver in die lewe gebring,” sê Japtha wat in sy 90ste lewensjaar steeds ywerig take aanpak.

Hy het op ’n jong ouderdom kennis gemaak met harde werk. Sy pa was ’n markagent en as ’n klein laaitie moes Japtha douvoordag, of selfs laat in die aand, help om boere se vars-produkte op die markplein af te laai.

Nie net harde werk het sy lewe gevorm nie, maar ook die harde werklikheid van die lewe. Hy het op die ouderdom van ses sy ma verloor en toe hy 16 jaar oud was, is sy pa oorlede. Daarna het sy oudste suster na die gesin omgesien.

“Ons het in ’n Christelike huis grootgeword. Hierdie fondament het my goed te staan gekom. Gebed en ’n vaste geloof in die Here het my deur die moeilike tye van die lewe gehelp.”

Harde werk het gemaak dat Japtha by Dower Primêre Skool die destydse Sub B en standerd 1 in ’n jaar se tyd voltooi het. Die res van sy skoolloopbaan, sowel as naskoolse onderwysstudies, is gekenmerk deur uitmuntende prestasies en die gevolglike toekennings van beurse.

“In 1948 het ek my eerste aanstelling, vir ’n maand, by die Primêre Skool Haaspoort gekry. Ek moes per fiets ’n hele paar kilometer van Kleinpoort af ry om by dié plaasskool te kom.”

So moes hy ook later jare, met ’n week se kosvoorraad in sy rugsak, vir drie ure aan 30 myl op ’n Maandag trap om by die Rautenbach Primêre Skool in die Elandsriviervallei uit te kom waar hy toe skoolgehou het.

Werk was skaars en diskriminasie het in daardie jare hoogty gevier.

Om R18 per week te verdien

Op ’n stadium het Japtha weer teruggekeer na die varsproduktemark, waar hy R18 per week verdien het. Hy het ook deeltyds vragmotors bestuur vir groothandelaars om kruideniersware af te lewer.

“As ’n jong man het ek besluit dat ek nooit teen enige persoon vir enige rede sal dis-krimineer nie. Om my dilemma op te los, het ek besluit om my kwalifikasies te verbeter.”

Hy het toe ’n diploma in Hoër Onderwys (musiek) by die Battswood Opleidingskollege in Wynberg, Kaapstad verwerf en later jare sy B.A.-graad aan UNISA.

In 1964 het hy ’n assistent betrekking by Uitenhage Hoërskool gekry en 15 jaar later is hy as skoolhoof by dié skool aangestel.

“Dit was in die tyd toe politieke bedrywighede in die land hoogty gevier het. Klasboikotte was aan die orde van die dag, maar my doel was altyd om die beste vir ons leerlinge te gee.

“Beginsels is vir my belangrik. Dit beteken om die lewe en besluite te baseer op wat reg en verkeerd is volgens die Heilige Woord van God. Om nie opgevang te word in gevoelens, sensasies, emosies of begeertes nie.”

Na bietjie meer as 21 jaar by Uitenhage Hoërskool, insluitend die ses jaar as skoolhoof, is Japtha vir nege maande oorgeplaas na die onderwysdepartement se Opvoedkundige hoofkantoor in Kaapstad.

Met sy terugkeer het hy vier aangename jare as inspekteur van onderwys vir die Gelvandale-kring geniet voordat hy op 60-jarige ouderdom met pensioen uit die onderwys getree het.

Van ledig wees was daar geen sprake nie en na sy aftrede slaag hy met vlieënde vaandels die eksamen van die raad vir eiendomsagente. Kenmerkend van Japtha, was hy ook ’n baie suksesvolle eiendomsagent. Tussen-deur het hy en sy eggenote verskeie reise in die buiteland onderneem.

Deesdae is Japtha steeds op-en-wakker en hou hy hom besig met leeswerk, tuintakies en gaan loer so af en toe nog in by Hoërskool Uitenhage, “wat net vyf minute se loop en drie deure van my huis af is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.