Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Hoof se pleidooi aan matrieks

OM die klas van 2020 na die COVID-19 pandemie se inperking en lewensontwrigtings voor te berei vir hul finale eksamen, blyk ’n reuse uit-daging by sommige skole te wees.

Stephen de Bruin, hoof van John Walton Senior Sekondêre Skool op Uitenhage sê die grootste uitdaging is die matrieks se ingesteldheid teenoor hul studies en hul toekomsplanne.

“Hulle fokus is op alle ander dinge, behalwe op hul studies. Die studieklasse, asook die Saterdagklasse, is volgens hulle ’n ‘straf’ wat inbreuk maak op hul vryetyd. Dit is duidelik te bespeur in hul skoolbywoning. Soms is daar tot 40 leerlinge op een dag afwesig - selfs op dae wanneer hulle informele toetse geskeduleer is.”

Dié skool het vanjaar 116 matrikulante. Ter voorbereiding vir die eindeksamen, het die skool met studieklasse by die skool van Maandae tot Donderdae, van 16:00 tot 19:00, begin. Buiten dié klasse bied die departement van onderwys ook Saterdagklasse by die skool aan ter ondersteuning van matrikulante.

“Beide hierdie projekte word egter swak deur ons eie leerlinge ondersteun omdat hulle nie die waarde wat hierdie klasse bied, besef nie,” sê De Bruin.

Hy het bygevoeg dat John Walton se matrieks moet besef dat hulle nie alleen in hierdie onseker situasie na die COVID-19 inperking is nie. “Al die matrikulante regoor die land ervaar dieselfde frustrasies en ander emosies, net soos hulle.”

Volgens De Bruin moet die matrieks se fokus nie op die situasie (COVID-19) wees nie, maar eerder op maniere waarop die uitdagings oorkom kan word.

“Voor hulle was daar ook matrikulante wat na ’n abnormale skooljaar, veral tydens skoolboikotte, ‘n volskaalse matriekeksamen moes aflê en hulle was suksesvol.”

Met die hervatting van klasse in Junie vanjaar, het De Bruin aan die matrieks die gedig van Two Frogs gelees. Die gedig handel oor twee paddas wat in ’n bak room geval het. Albei het begin swem in die hoop om uit die bak te kom. Een het egter opgegee en verdrink, maar die ander een het aangehou swem. Oplaas het hierdie volhouer se swemmery die room in botter verander en het dit wat die padda se lewe bedreig het, die hulpmiddel vir hom geword om op die botter, uit die bak na sy vryheid te spring.

“Net so sal daar matrieks wees wat graag wil opgee omdat hulle nie ’n uitkoms sien nie. Hulle moet egter deel vorm van daardie groep wat nie opgee nie en uiteindelik hul situasie oorkom en dít as fondament gebruik om hul toekoms met meer selfvertroue aan te pak,” sê De Bruin.

John Walton se mikpunt vir vanjaar se slaagsyfer was 75% , maar dit moes weens die impak van COVID-19 aangepas word. Die skool se Herfs-, Winter- en Lenteskool programme is heeltemal deur die pandemie ontspoor.

“COVID-19 het ook ons leerlinge se moraal en ingesteldheid baie negatief geraak. Nieteen-staande probeer ons alles in die stryd werp om te verseker dat ons nie ‘n slaagsyfer van onder 65% behaal nie.”

John Walton het in 2019 ’n uiters suksesvolle matriekkamp gehad wat volgens De Bruin ’n klinkklare bewys was dat dit ’n groot verskil maak aan hul matriekuitslae.

Vandale breek matriekkampplek af

Die skool het weereens vir die 2020 matriekkamp vir die voorbereidende en finale eksamen, plek bespreek by Rus en Vrede, ’n rusoord aan die buitewyke van Uitenhage.

“Ongelukkig is hierdie kampplek erg gevandaliseer tydens die grendelstaat. Dit is ‘n jammerte dat mense besluit het om hierdie plek te vandaliseer, want dit het die leerlinge van talle skole in die verlede vir leerkampe gehuisves en daarom ‘n aandeel in die die sukses van soveel leerlinge gehad. Deur die vandaliste se selfsugtige gedrag word honderde leerders nadelig ge-raak,” sê De Bruin.

Die skool is tans besig om na ’n alternatiewe kampplek te soek, maar was tot dusver nog nie suksesvol nie. Intussen gaan hulle voort met studieklasse by die skool vanaf 16:00 tot 19:00 asook oor naweke.

“Ons moedig leerlinge asook hul ouers aan om gebruik te maak van al die geleenthede wat vir hulle geskep word,” sê De Bruin.

  • Enige instansie wat die John Walton Senior Sekondêre Skool kan help met akkommodasie vir die matriek-leerkamp wat al in die verlede groot welslae opgelewer het, kan die skoolhoof, Stephen de Bruin, kontak by 041 988 1101 of 060 551 4974.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.