Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
John Walton se matrieks op leerkamp vir beter punte

MATRIEKS wat in moeilike omstandighede moet leer of wie se punte nie na wense is nie, word deur die Ilima-projek van die department van onderwys die geleentheid gegun om binne ’n leervriendelike omgewing vir hul laaste groot skooleksamen voor te berei.

John Walton Senior Sekondêre Skool op Uitenhage is vanjaar vir die eerste keer deel hiervan en 57 matrieks is geïdentifiseer vir die projek.

Stephen de Bruin, skoolhoof van John Walton, sê hy het al sedert 2011 by die departement aangeklop om die skool deel te kry van die projek.

“Ons probleem is nié dat ons leerders nie potensiaal het nie. Ons probleem is dat van ons leerders se omstandighede by die huis nie goed is nie,” sê De Bruin.

“Die leerders wat ons geïdentifiseer het vir die projek, is die kerngroep wat grensgevalle is. As hulle slaag, sal dit ons skool se slaagsyfer goed opstoot, maar as hulle druip dan is ons slaagsyfer so 40-50%.”

Daarom, sê De Bruin, is die ses weke se stilte en dissipline om te leer, ’n goeie nagrus en gesonde bord kos wat die leerders by die leerkamp kry, van uiterste belang vir elke leerder en vir die skool. Geen selfoon word op die leerkamp toegelaat nie.

“Al wat hulle moet doen, is leer. Dié kamp gaan maak of ’n leerder ’n platform het vir sy of haar toekoms of nie. As jy matriek slaag, dan staan dit agter jou naam vir die res van jou lewe,” sê De Bruin.

Volgens Phillip Joseph, adjunkhoof van John Walton, is Ilima deel van die departement se matriek-intervensie program vir skole met ’n matriekslaagsyfer van 70% en minder.

“Dit bied aan matrieks, wat voldoen aan die kriteria, die kans om weg van moeilike huislike omstandighede, vir die duur van die matriekeindeksamen, in ’n omgewing te leef en te leer waar daar dissipline is sowel as tutors wat kan help met vakke,” sê Phillip Joseph.

“Ons is baie opgewonde oor die projek. Dit is vanjaar ook die eerste keer wat ons in vakansies en naweke matrieks met ekstra klasse gehelp het wat deur die departement befonds is.”

Twee afgetrede onderwysers, Ricardo Bacon en John Julies sowel as Darion Cowie en oud-leerder Brunique Vaaltyn, hou toesig by die John Walton matrieks wat op die Ilima leerkamp is. Onderwysers word ingedeel om weeksdae by die kamp te slaap en ook toesig te hou.

Een van die matrieks op die leerkamp sê, “By ons huis is daar baie lawaai, ek probeer leer, maar dit werk nie. Hier is dit heeltemal anders, ek het nog nooit vir so lank kon konsentreer sonder dat ek onderbreek word nie.

“Ek is gefokus en ek glo my punte gaan sommer baie beter wees.”

Nog ’n leerder sê, “Ek is baie positief, ek het nog nooit by die huis kon leer soos wat ek hier leer nie. Ons leer 10 ure op ’n dag, dit was nog nooit vir my moontlik nie. Wat ook lekker is, is almal leer en dit is vir my ’n motivering om my beste te gee.”

Leerders word in die week per minibus na die eksamenlokaal geneem en naweke keer hulle terug na hul huise toe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.