Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Juffrou tree af by skool waar sy begin het

AGT-EN-DERTIG jaar gelede het Seugnet du Toit (néé Cronjé) as jong juffrou haar loopbaan in die onderwys by die Laerskool Winterberg op Uitenhage begin. Dit sal die eerste en enigste skool wees waar sy skoolgehou het, wanneer sy einde Desember 2019 aftree.

Dié graad 1-juffrou sê Winterberg lê baie na aan haar hart.

“Ek weet ek gaan nog baie dae emosioneel wees en die skoolhou mis. Hier het ek altyd waardig gevoel. Elke dag wanneer ek huis toe gaan het ek gewéét ek het iets beteken vir ’n kind,” sê Seugnet.

“Kinders kom skool toe met ’n seerplek en vra, ‘juffrou ... het juffrou nie vir my ’n pleister nie?’ ’n Mens vervul soveel rolle as onderwyser en dit beteken só baie vir die kinders. Dit is dié dinge wat ek baie gaan mis.”

Sy sê oor die 38 jaar is dit haar ervaring dat “waardes en dissipline teenoor kinders in ouerhuise al slapper geword het. Ouers laat kinders meer dinge toe, wat eintlik nie toegelaat behoort te word nie. Dit beïnvloed hoe jy klasgee, want nou moet die waardes, wat ouers veronderstel was om aan hul kinders te leer, eers deur onderwysers aan die kinders geleer word.”

Randall Mapoe, skoolhoof by Laerskool Winterberg sê, “Juffrou Du Toit het ’n baie diep emosionele verbintenis met die skool. Dit is waar haar sentiment lê. Sy het selfs dié skool se vlag in ’n nuwe gedaante laat wapper.”

Volgens Seugnet was dit in die jaar wat Winterberg se 100ste bestaansjaar gevier is.

“Dit was tyd om die vlag aan te pas by ’n nuwe era. So, ek het so bietjie hier en daar aan die ontwerp verander.”

Mapoe sê Seugnet, wat oud-burgemeester van Uitenhage Johan Cronje se dogter is, is ’n mens met inbors. “Ek ken haar slegs die afgelope drie jaar wat ek aan Winterberg verbonde is, maar wat ’n ongelooflik toegewyde mens!

“Skoolhou is haar lewe. Sy is passievol oor die skoolkinders en skoon te bang om verlof te vat.

“Ons wens vir haar ’n geseënde aftrede. Sy het oor 38 jaar honderde kinders se lewens positief geraak en ’n sterk fondasie-fase in onderwys vir hulle geleer,” sê Mapoe.

Seugnet (59) sê sy het al vir ’n hele paar kleinkinders van kinders wat dekades gelede voor haar in die klas gesit het skool gehou.

Na haar aftrede gaan sy op Uitenhage bly en haar onderwysloopbaan informeel voortsit.

“Ek gaan al my aandag toewy aan my eerste kleinkind, Jani, wat nou vyf maande oud is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.