Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Kampioen-duiweboer (79) tree uit

DIE bekende Oos-Kaapse duiweboer Gert Nell (79) het na dekades se deelname aan wedvlugte en drie agtereenvolgende kampioenjare uitgetree.

Dié jaar nog het sy wedvlugduiwe se prestasies gemaak dat hy as die klubkampioen van die Uitenhage Posduifklub aangewys is.

In 2018 en 2017 is Gert óók as klubkampioen aangewys.

“Toe ek in 1956 met duiwe-wedvlugte begin het, was ek só jonk dat my pa ’n brief aan die klub moes skryf om toestemming te gee dat ek mag deelneem,” sê Gert.

Hy sê daar was uitstekende leermeesters wat hom kosbare lesse oor dié sport geleer het. Manne soos Colin Wheedy, Alan Frost, Dougie Stanton en Jack van der Merwe.

“In my heel eerste wedvlug het ek ’n tweede plek behaal,” sê Gert.

Dit was ook die jare wat die Suid-Afrikaanse Spoorweë duiwetrokke gehad het. Wedvlugduiwe is teen ’n minimale koste vervoer en die stasiemeesters het hulle op ’n bepaalde tyd vanaf die perron vrygelaat. Oefenvlugte is ook per trein gedoen en mandjies is gratis teruggestuur.

In die afgelope drie seisoene het Gert se duiwe 38 wedvlugte gewen.

Dit te midde van sterk kompetisie van duiwe uit die hokke van Deon van Loggenberg, Clayton van der Westhuizen, Deon Gouws, Tiekie Transell en Herman Oosthuizen.

“Seën die duiwe”

Langs die sy van dié suksesvolle duiweboer staan sy vrou Orgia, wat sedert 1973 tot en met sy uittrede, ewe passievol oor die duiwe was.

As ’n duiweboer goeie resultate in dié kompeterende sport wil geniet, moet hy volgens Orgia elke dag sy duiwe op die pad kry.

“Op die kort pad so vier keer ’n week en die langer pad drie keer. Hoe meer hulle oefen of padwerk kry, hoe skerper word hulle. Hulle kry spoed en is dan gesond en fiks,” sê Orgia.

“My man het nooit sy duiwe ver van sy hokke losgelaat nie. Net so 23km uit Uitenhage op die Kirkwood-pad tot daar by Gert-se-Draai, ’n plek wat ander duiweboere na hom vernoem het.”

Elke Donderdag wat Gert met sy duiwe klub toe gaan, dra Orgia die mandjies tot by die kar, sit haar hande op die bokse en vra dan dat “Die liewe Vader hulle moet seën en elke duifie weer veilig vir ons terugbring. En dit gebeur!”

Wedvlugduiwe verg 365 dae se harde werk. Gert sê sy vrou se entoesiasme en hulp deur al die jare was sy dryfkrag.

“Ons duiwe het al alle afstande gewen wat jy in duiwesport kan wen. Vir my vrou is elke wen ’n groot prestasie. Ek is haar ewig dankbaar vir al die jare wat sy my in dié sport waarvoor ons so lief is geondersteun het,” sê Gert.

Duiweskoue

Gert het ook duiwe geskou en sy eerste skou was in 1988 op Queenstown. Daarna het sy duiwe by verskeie streekskoue sowel as by vier Suid-Afrikaanse skoue gepronk. In Bloemfontein, waar 22 miljoeners, onder andere Boet Troskie hulle duiwe by ’n SA-skou geskou het, het Gert se duif ’n vyfde plek behaal.

By die daaropvolgende SA’s het hy twee derde plekke en uiteindelik ’n eerste plek behaal.

Duiweboer met meeste wedvlugte

Gert het nie uitgetree oor gesondheidsredes nie, maar uit eie keuse. Hy is op 79-jarige ouderdom die oudste aktiewe lid in die OP-wedvlugunie.

“Ek dink ek is verreweg die duiweboer wat die meeste jare van wedvlugte in die OP-unie agter die rug het,” sê Gert.

Sy uittrede beteken dat hy nou sy duiwe verkoop, maar hy gaan ’n paar broeiduiwe hou om hom en Orgia nog besig te hou.

“Ons is te lief vir die duiwe om alles op te gee. Om in die bed te lê en die duiwe se vroegoggend gepronk en gekoer in die hokke te hoor, is so ’n lekker gevoel om elke dag mee te begin,” sê Gert.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.