Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Krisistyd kweek kreatiwiteit

BINNE elke krisis is daar geleent-hede - dít is tydens die COVID-19 pandemie bewys.

Op Despatch het die Rautenbachs van die Symara-tekstielfabriek in die krisistyd hul sakevernuf - wat oor drie generasies en byna ses dekades strek - ingespan om nuwe produksie-lyne te skep.

“In ’n krisistyd moet ’n mens nooit hoop verloor nie. Dán is dit tyd vir anders dink en fokus op oplossings om aan te pas en te oorleef.

“Dit is juis in tye soos dié waar mense met die mees kreatiewe en briljante planne vorendag kom,” sê Andrea Rautenbach, tekstielontwerper by Symara.

Sy volg in die voetspore van haar ouma, Sya Maria Rautenbach, wat sowat 58 jaar gelede met breiwerk die familiebesigheid in ’n motorhuis op die dorp begin het. Vandag is Symara een van die toonaangewende tekstielfabrieke in die Oos-Kaap. Klere vir sport en vir skole was die rede vir Symara se bestaan en deur al die jare die hoof inkomstestroom, totdat COVID-19 die wêreld getref het.

“Ewe skielik het die markte, waaraan ons dekades lank voorsien het, nie meer bestaan nie.

“Vir Symara se voortbestaan moes ons aanpas en nuwe produkte begin vervaardig. Gelukkig het ons groot bestellings vir mondmaskers ontvang en kon ons fabriek se deure deur die inperkingstyd oophou.”

Die soeke na nuwe idees is by Symara nie net beperk tot die bestuurspan nie. Hier word werkers aangemoedig om deel van die oplossings te wees en om met nuwe idees vorendag te kom. Van die nuwe produksielyne is juis te danke aan idees vanuit die werkerskorps.

“Elkeen kom met idees en dít is só aansteeklik, amper elke week is daar ’n nuwe produk.

“Ons het die masjinerie, ongelooflike kreatiewe ontwerpers en baie vaardige werkers. wat dit alles moontlik maak,”sê Andrea.

Maak jou baba-kamer mooi

“Kyk net hoe kreatief en handig hierdie doeksakke is! Dit is een van die idees uit die werkerskorps en dit het daartoe gelei dat ons ’n hele babareeks begin vervaardig het.

“Die lekker van ons produk-reeks is dat dit uitgebou kan word, want die ontwerpe word in temas gedruk. So jy kan ‘n hele babakamer toerus met bypassende ontwerpe.”

Nog ’n idee van ’n werker, Talana Emms, is ’n handige son- en windskerm wat oor ’n baba-karstoel of drastoel getrek kan word.

Mooigoed vir die tafel

Bypassende ontwerpe soos dié van die baba-reeks, geld ook vir die interieur-afdeling met kussingslope, tafellopers, servette, plekmatjies en vele ander interessanthede.

Dit alles is unieke tema-ontwerpe waarop ’n mens kan uitbou en selfs ’n tafel vir enige geleentheid spoggerig kan dek.

“Ons is weekliks besig om nuwe items te vervaardig en te improviseer. Ons fabriekswinkel se voorraad en rakke verander konstant.

“Een van die dae begin ons met ons strandhuisreeks en uniek-eie Suid-Afrikaanse Kersfees-reeks,” sê Andrea.

Symara doen nie massavervaar- diging nie, en verpersoonliking van ontwerpe word ook gedoen, solank daar ’n redelike hoeveelheid daarvan gedruk word.

Iets van als in fabriekswinkel

Erica Goliath, wat die afgelope 27 jaar in die fabriekswinkel werk, sê die aanpassings weens die COVID-19 pandemie is nou opwindend en propvol verrassings.

“Genade, dit is omtrent elke dag iets nuuts! Ek geniet dit en dit is ook lekker om te sien hoe opgewonde die kliënte in die winkel raak oor al die mooi goed.”

Nuwe produkte op die rakke sluit in braaivoorskote met humoristiese slagspreuke, houtborde en koffie- bekers met ikoon-handelsmerke daarop gedruk.

Andrea sê die transformasie van Symara is met ope arms deur die gemeenskap verwelkom en die fabriekswinkel raak nou ’n gereelde kuierplek vir mense wat nie kan wag nieom te sien wat is nuut op die rakke.

“Dit is ‘n lekker verhouding en ons is trots daarop dat ons kan voortgaan om ons gemeenskap te dien,” sê Andrea.

  • Die Symara fabriekswinkel by 10 Graham Bellstraat is in Despatch se industriële gebied en is oop op weeksdae en nou ook op Saterdagoggende.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.