Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Sonde met beeste in Despatch-woonbuurte
Losloper beeste op Despatch en omliggende paaie is ’n ernstige probleem. Inwoners is raadop omdat wetstoepassing nie gebeur nie. Foto:HEILIE COMBRINCK

“EK voel beeste in ’n woonbuurt is nie deel van die belastingbetaler se pakket nie.”

Dit is die mening van ’n erg omgekrapte Mara Venter, ’n inwoner van Retief-woonbuurt op Despatch.

Sy is raadop oor die troppe beeste wat oral op die dorp wei, maar wil graag ook deel wees van ’n oplossing met dié sonde-met-die-beeste situasie.

Sy wil weet wie se verantwoordelikheid dit is om te sorg dat loslopende diere nie in woonbuurte wei nie.

“Watter verantwoordelikhede berus by die polisie, munisipaliteit en raadslede om die diere te skut of die eienaar op te spoor en te beboet?”

Voorts wil Venter weet wat is die publiek se regte in die geval waar loslopende diere ’n bedreiging inhou en skade aanrig aan eiendom of tuine.

“As belastingbetaler dink ’n mens dadelik hoeveel dit jou kos om ’n mooi tuin te hê en dan kom verniel die beeste dit. Maar wat my ook kwel, is die gevaar wat die beeste vir mense en voertuie inhou. Iemand het gesê ‘skiet die bees’, maar ’n geskietery kan mos nie in die woonbuurt gebeur nie!”

Sy sê haar man, Gert, jaag die beeste met ’n sweep aan, “maar waarheen? Net as ’n probleem vir ’n volgende inwoner?

“Ek sien dat die aanjaag van die beeste vir sommige mense ’n leun-oor-die-hek tipe van vermaak is en ander lewer kommentaar so in die lug in, maar doen of help niks.

“Al wat ons probeer, is om die beeste weg te hou van die plante by my heining wat my R1 300 by Floradale gekos het. Ek wil bitter graag die klein blommetjies wat nou uitstoot, in die lente sien oopgaan,” sê Venter.

Sy en haar man het tydens hul stapoefening ’n paar weke gelede op ’n trop beeste afgekom wat langs die NG Kerk Retief op die rand van die besige Verwoerdrylaan wei.

“As daar ’n voertuig oor die brug sou kom teen ’n effense spoed en ’n bees besluit om die pad te kruis ... my mens, kon dit ’n lelike ongeluk veroorsaak!”

Volgens Venter wei die beeste sonder enige beeswagter in sig en hulle kom glo deur die Swartkopsrivier van Cuyler Manor se kant af.

Frans Swanepoel, DA proporsionele verteenwoordigende raadslid in die Nelson Mandelabaai munisipale raad, sê rondloper diere is ’n toenemende probleem op en rondom Despatch.

“Daar was Sondag ’n ongeluk op die R367 pad langs Despatch toe losloper varke voor ’n voertuig ingestap het. Die bestuurder moes remme aanslaan en toe ry die kar agter in haar vas. Gelukkig was daar geen ernstige beserings nie.”

Volgens Swanepoel kom wei al hoe meer beeste in die dorp en langs paaie.

“Daar is geen beeswagters nie.Dit wil voorkom asof die beeseienaar die dorpsgronde as veilig vir sy beeste beskou en weet dat inwoners as beeswagters optree omdat hulle op hul hoede is vir misdaad.

“Die munisipaliteit se dierebeheer is verantwoordelik vir die verwydering van die losloper diere en die skut van dié diere.

“Ongelukkig is dit ’n onbegonne taak om hulle in die hande te kry. Sou hulle reageer, is dit onmoontlik om die hele trop te verwyder want hulle kan net ’n paar beeste op ’n slag oplaai, wat al klaar ’n uitdagende taak is.”

Swanepoel stel voor dat die munisipaliteit ’n kraal naby die dorp bou, waarheen die beeste gejaag kan word en vandaar na die skut vervoer of aangejaag word. Hy is egter skepties of só iets ooit sal gebeur.

“Daar is so baie uitdagings waaraan die munisipaliteit nie voldoen nie, byvoorbeeld is die Uitenhage Dierebeskermingsver- eniging, wat moet omsien na diere in die munisipale skut, nog nie eens vir hul dienste betaal nie. ”

  • Die munisipale dierebeheer is verantwoordelik vir die verwydering van losloper diere en hulle kontaknommers is: 041 506 1743; 041 506 5218; 066 077 1773 of 071 334 4633 4633.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.