Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Tradisionele Khoi Kraal in U’hage opgerig

’n GESKIEDKUNDIGE geleentheid vind Saterdag op Uitenhage plaas wanneer die eerste tradisionele Khoi-San Kraal amptelik geopen word.

Aan die stuur van dié tradisionele sake is Paramount Chief Gert Steenkamp wat meen die Khoi en San se insluiting in die landswapen van Suid-Afrika is ’n erkenning dat dié stam die eerste inheemse nasie van die land is.

“Dié landswapen waarop die twee Khoi en San figure verskyn, is op sewe van die belangrikste dokumente in ’n mens se lewe. Van jou geboortesertifikaat tot uiteindelik jou doodsertifikaat,” sê Paramount Chief Steenkamp.

“Vir ons as die eerste inheemse nasie, is die tradisionele wetsontwerp van die Khoi en San soos ’n pot goud. Want dit is die weg wat vir ons gebaan word sodat hierdie vergete nasie se regmatige plek weer in sy geboorteland herstel word.”

Volgens Steenkamp bied die wet op tradisionele howe, wat ten doel het om bestaande tradisionele howe in pas met die Grondwet te reguleer, sekere magte aan ’n Khoi-hoofman en -hoofvrou.

“Misdadige gedrag is dikwels ’n uitvloeisel van gebroke gesinne. Met dié tradisionele howe kan min-der ernstige misdade eerder met byvoorbeeld gemeenskapsdiens as gevangenisstraf toegepas word.

“Gemeenskapsdiens kan help om oortreders vroeg genoeg tot inkeer te bring en kan ook help met die besef van selfwaarde.

“Hier, in die Kraal, wil ons deur die toepassing van die ou Khoi- en San-tradisies, ons nasie met trots en respek sy plek in die samelewing gee,” sê Steenkamp.

Dit is ook hier wat tradisies soos Doro en die !Habab-inisiasie, waar jong seuns en meisies as manne en vroue verwelkom word, gehou sal word, sowel as die gevolglike tradisionele viering daarvan wat as Nau! bekendstaan.

Ander tradisies wat hier herleef sal word, is die viering van volmaan, waartydens aanbidding en lofprysing sal geskied terwyl om ’n vuur gedans word.

Saam met die Kraal se opening gaan daar ook ’n tradisionele seremonie vir Khoi-San kinders wees wat deur die jaar opleiding in tradisies ontvang het. Hulle is ook geleer om die volkslied in Khoi te sing.

Aktivis Chief Christian Martin sê hy is baie opgewonde oor die amptelike opening van die eerste Kraal in Uitenhage.

“Dit gaan ons kultuur oplig en laat herleef. Hier kan ons optree in ons ware wese van wie ons is as eerste inheemse nasie van hierdie land,” sê Martin.

“Dit is tyd om ons jeug se identiteit in hul kultuur te vestig. Ek glo dat meeste van die jeug se probleme opgelos kan word deur ons kultuur en rituele weer deel te maak van ons kinders se opvoeding.”

Paramount Chief Crawford Fraser is verantwoordelik vir die Khoi-kurrikulum en sê daar is vyf beginsels wat Khoi-San kinders moet leer.

“Moet nie steel nie, moet nie be-skadig nie, moet nie lieg nie, moenie langs ’n vuur sit wat jy nie gemaak het nie en as jy iets optel wat nie aan jou behoort nie, neem dit na ’n chief of ’n ouer verantwoordelike persoon.

“Dié Kraal is volgens tradisie gebou. Dit is rond met die ingang aan die oostekant vanwaar die son opkom. Dit is ’n heilige plek waar ons tradisionele leiers byeen kom om te beskik oor tradisionele sake.

“Die opening van hierdie Kraal is ’n spirituele geleentheid en vir ons ’n baken van hoop,” sê Paramount Chief Fraser.

Verskeie hooggeplaastes van regoor die land sal na verwagting die amptelike opening van dié Khoi-San Kraal in Hadidastraat bywoon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.