Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Veiliger opsie vir dié weerloses
Uitenhage se Drostdy Werkplek vir verstandelik gestremde volwassenes het voor die Covid-19 inperking hul werkers ingelig oor persoonlike higiëne en gesondheidsreëls. Mia Smit (voor) bestuurder van die sentrum sê Drostdy sal toe bly vir solank moontlik omdat gestremdes hoë risiko-gevalle vir infeksie is. Foto:VERSKAF

DIT is tjoepstil by Uitenhage se Drostdy Werkplek vir verstandelik gestremde volwassenes. Weg is die woeligheid, die vriendelike gesigte, sorgsame personeel en verkopers in die strate met mandjies vol tuisgebak.

Net soos duisende besighede, instansies en werknemers, wurg die Covid-19 pandemie ook die Drostdy Werkplek in Kerkstraat. Alhoewel daar steeds duisende rande per maand aan huur en ander uitgawes opgedok moet word, is dit beter dat die 80 geregistreerde siele van die Drostdy Werkplek vir hul eie mediese veiligheid tuis bly.

Verligting van die inperkingregulasies is nie iets waaroor Mia Smit, bestuurder van die Drostdy Werkplek, opgewonde raak nie.

“Die gestremdes, of kinders soos ons na hulle verwys, wil elke dag weet wanneer kan hulle terugkom. Hulle mis dit verskriklik om te kom werk en om konstruktief besig gehou te word,” sê Smit.

“Ons sou baie graag wou oopmaak, maar selfs voor die inperking het ons deur die hande was-, veilige afstand- en masker-dril gegaan en gesien, o nee, dit gaan nie werk met ons kinders nie.

“Geen van ons fondsinsamelingsprojekte kan aangepak word nie, nie eens ons kombuis, wat ons grootste bron van inkomste is nie. Maar dit is beter dat die sentrum toe bly en ons kinders veilig by hul huise is.

“Ons gestremdes is hoë risiko-gevalle, meeste van hulle moet met ‘n onderliggende immuun-gebreksindroom saamleef.”

Die sentrum val onder die departement van maatskaplike ontwikkeling. Lopende kostes beloop gemiddeld sowat R60 000 per maand om die volwasse verstandelik ge-stremdes, konstruktief by die sentrum besig te hou en te versorg.

Smit sê hulle het die jaar goed afgeskop met opwindende planne en nuwe projekte om Drostdy finansieël ‘n goeie hupstoot te gee.

Toe kom Covid-19 en bring alles tot stilstand.

“Hoe langer die pandemie aanhou, hoe meer draai my kop oor wat ons moet doen om fondse in te kry. Die oorhoofse kostes is steeds daar.

“Dit is ‘n onseker toekoms, maar ek sal positief bly. Ons mense by die sentrum het nodig om hoopvol te bly.”

‘n Ligpunt is diensverskaffers soos Woga Sekuriteit, wat goedgunstiglik hul dienste gratis aanbied.

Smit voorsien nie dat Drostdy se bedrywighede binnekort hervat sal kan word nie.

“Eers wanneer almal se veiligheid op die perseel en in die gemeenskap verseker kan word, sal Drostdy Werkplek gemaklik voel om weer sy deure oop te maak,” sê Smit.

  • Angie Motshekga, minister van basiese onderwys het in die Staatskoerant aangekondig dat leerders van skole vir verstandelik erg gestremde leerders op 3 Augustus kan terugkeer skooltoe.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.