Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
UD-Express
Wie gaan Broodblik se nuwe baas wees?
Skoolhoof Koos Brits by Laerskool Innes se ou Broodblik skoolbus. Fotos:heilie combrinck
Broodblik se beheerpaneel.
Koos Brits in die ou 1976 Ford bus wat 36 sittende passasiers kan vervoer.
Koos Brits, ou Ford bus, Innes, UitenhageFoto:

’n SKOOLBUS is altyd gelaai met goeie herinneringe vir die leerlinge wat daarin gereis het.

Vir diegene wat dit nooit beleef het nie, of diegene wat dit op ’n ander manier soos byvoorbeeld ’n reis-leefstylbus wil beleef, is daar die goeie nuus dat Laerskool Innes een van hul ou getroues wil verkoop.

“Die COVID-19 pandemie het sake onherroeplik verander by die skool. Een daarvan is dat ons van ons ou blou ‘Broodblik’ skoolbus moet af-skeid neem,” sê Koos Britz, skoolhoof van Laerskool Innes op Uitenhage.

“Ou ‘Broodblik’ is ’n lekker bus. Dit is genuine ‘n collector’s item. So, ons sal graag wil hê dat dit in die hande van ’n nuwe eienaar moet kom wat dit kan omskep in ’n kuier- of vakansiebus.”

Britz is sentimenteel oor Broodblik, ’n 1976 model wat nog met sy oorspronklike Ford-dieselenjin spog.

“Ek onthou die dag in 1999 toe ek en Leslie Stander, die vorige skoolhoof, die bus daar in Caledon se wêreld gaan haal het. Die bus was toe helder geel geverf en gebruik om seisoenwerkers na plase te vervoer.

“In sy dae het ou Broodblik selfs Innes-kinders op toere na Kaapstad en Oos-Londen gevat sonder enige probleme. Hy ry nou wel stadig, maar het ons nog altyd geneem én teruggebring na waar ons wou wees.”

Sy wiele het gerol na menige sportbyeenkoms en skooluitstappie en vandag staan sy kilometerlesing op 92 230km. Bokant ’n bagasierak is ’n kennisgewing: Gesertifiseer om 36 sittende en 9 staande persone te vervoer. Voor, bokant die handrem is ‘n nota opgeplak wat lees: Sit in eerste rat SLEGS as bus DOODSTIL staan.

Links voor, onder ‘n sitbankie pronk Broodblik se oorspronklike gereedskapskas, gerieflik naby die enjinkap wat ook voor, in die middel van die bus se binneruim is.

“Ou Broodblik is nog op die pad. Ons moet hom elke ses maande deur die padwaardigheidtoets laat gaan, so hy is reg om nuwe reise aan te pak.

“Na 21 jaar van getroue diens hier by die skool, gaan ons Broodblik met ’n swaar hart hier sien uitry, want ons weet hy kom nie weer terug nie.”

Van plaasbus, skoolbus, nou ’n wit olifant ... wens Britz dat dié ou Broodblik se stories nooit gaan ophou nie, maar vorentoe net beter en beter sal raak.

“Die prys is onderhandelbaar. Mense wat belangstel, moet ons bel en dan kan ons gesels,” sê Britz.

Wêreldwyd is daar ’n toename in die verkoop van karavane en motorhuise, hoofsaaklik weens die COVID-19 pandemie wat die toerismebedryf totaal verander het.

Plaaslik het Eben Grobler, inwoner van Despatch en die eienaar van Campworld and Safari Centre 4x4 in Port Elizabeth, gesê: “Baie het verander in die grendeltyd. Vrygeestiges sien altyd die padvat-potensiaal vir ’n wegbreek uit stads- of dorpslawaai en hulle kry op innoverende maniere dit reg om onder ’n sterrehemel aan die slaap te raak.”

Grobler het gesê dat heelwat mense hul beplande oorsese reise gekanselleer het en belê het in die koop van ‘n karavaan. Hy het die skerp toename in die verkoop van karavane en buite-lugtoerusting beaam.

“Die pandemie is sleg, maar dit bring ook goeie nagevolge na vore. Mense het begin besef hoe bederf ons is met ongelooflike kampplekke in ons land. Ons gaan beslis begin hoor van baie nuwe kampterreine op versteekte en afgeleë plekkies,” het Grobler gesê.

Moet dus nie dink daar is fout wanneer jy eendag ’n blou skoolbus onder bome op ’n Karooplaas of elders in ’n kampterrein in die Tsitsikamma of iewers langs die kus sien staan nie.

Dit sal ou Broodblik wees wat vir nuwe herinneringe sorg!

  • Vir meer inligting oor ou Broodblik bel Laerskool Innes by 041 992 3821.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak UD Express Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.