Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Allanridge plek van oorlewing, oorwinning

Jessica Nel, Allanridge:

Dit was met hartseer en misnoeë dat ek en mede- Allanridgers die subjektiewe berig in die Vistavan 26 September wat deur Alet van der Walt saamgestel is, gelees het. Ek sou graag die volgende onder lesers se aandag wou bring:

  • Die statistieke in die berig verwys na Allanridge, maar sluit dan ook die nabygeleë Nyakallong-township in, hoewel die ander dorpe se statistieke nie hul townships insluit nie. Die sosiologiese samestelling van ’n gebied beïnvloed die persepsie van statistieke.
  • Statistieke wys verder deur EasyStats dat die algehele misdaadsyfer in die Vrystaat soos volg daar uitsien: Park Road – 11370, Welkom – 5635 en Thabong – 4013.

Welkom en Thabong is afsonderlik tweede en derde in die Vrystaat aangedui.

Voorstede en townships word ook afsonderlik in ander dorpe aangedui.

As ons die statistieke op nominale waarde opsom sonder om byliggende faktore in ag te neem, maak dit Welkom die tweede gevaarlikste dorp in die Vrystaat, en dit is ook ’n wanpersepsie.

  • Harmony Target 1 Myn, bied werk vir baie mense en ook vir mense van buurstate en dus kan die invloei van vreemdelinge nie met dorpe soos Ventersburg en Hennenman vergelyk word nie.
  • Dié moorde wat wel die afgelope jaar in Allanridge self gepleeg is, was ook nie net willekeurige, moedswillige moorde nie, maar moorde met motief en sindikaatverwant.
  • Daar is meer kriminele aktiwiteite in voorstede soos Bedelia, Lakeview en Reitzpark in ’n week as wat die dorp Allanridge in jare ervaar, dus is Allanridge beslis nie die gevaarlikste dorp in die Goudveld nie.

Op 15 Oktober 2016 het ons sak en pak Allanridge toe getrek, ná 40 jaar in Welkom. Ons kon ons huis in Welkom verkoop en kontant ’n huis in Allanridge koop.

Behuising is nou nog baie goedkoop, maar met nuwe mynontwikkelinge in die pyplyn gaan dit binnekort verander.

Mense in Allanridge moet versigtig wees om nie op hol gejaag te word en hul huise uit vrees spotgoedkoop te verkoop nie.

Hoewel daar nie nou veel werk in Allanridge is nie, doen die gemeenskap wat hulle kan om te oorleef. Hier word gebak, gehekel, algemene herstelwerk gedoen, groentetuine aangelê, bejaardes versorg en enigiets wat tot voordeel vir die gemeenskap kan wees.

My 12-jarige seun geniet individuele aandag in ’n klein plaasskooltjie, waar kinders nog kind kan wees en na aan die natuur kan grootword.

Ek staan in verwondering oor ons dorpie se gasvryheid. My hart wil uit my bors klim van trots op ons plaaslike polisie en sekuriteitspan wat nie skroom om die gemeenskap blitsvinnig by te staan nie.

As ek my positiewe ervaringe van Allanridge moet deel, sal ek ’n boek moet skryf.

Hier is mense wat weet hoe om te oorleef, hoe om tyd te maak vir hul medemens, hoe om die bietjie wat hulle het met ander te deel en hoe om in oorwinning te stap.

Ek salueer julle, my mede- dorpsgenote.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.