Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bekende in regskringe sterf

’n Seder van die Goudveld-gemeenskap is Maandag (04/02) ná ’n kort siekte in die Mediclinic Welkom oorlede.

Ben Kellerman (79), ’n prokureur van die Goudveld, is oorlede nadat hy op 16 Januarie in die Medi­clinic Welkom vir die behandeling van longontsteking opgeneem is.

Hy was ’n bekende in regskringe en het vir meer as 47 jaar as prokureur gepraktiseer.

Ben het hom in 1969 in Welkom as prokureur gevestig en gepraktiseer tot sy aftrede in 2016.

Hy was een van die direkteure van Schoeman, Kellerman & Kotzè prokureurs tot en met sy aftrede.

Ben is op 6 November 1939 in Port Elizabeth gebore en het in die Oos-Kaap grootgeword.

Hy het sy hoërskoolloopbaan aan die Cradock Boys High School voltooi waarna hy by die departement van justisie begin werk het.

Tydens dié tydperk het hy homself as prokureur bekwaam en ook as landdros by die departement van justisie gewerk.

Hy het hom in 1969 as jong prokureur in die Goudveld gevestig en was vir 40 jaar by Schoeman, Kellerman & Kotzè betrokke. Die direkteurs van die praktyk is Hector Schoeman (afgetree), Ben Kellerman sr., Johan Kotzè, Nico Louw en Bennie Kellerman.

“My pa se beroep was sy groot voorliefde en passie. Hy het nie vir enige uitdagings gestuit nie en dié uitdagings baie geniet,” sê Bennie Kellerman, sy seun.

Ben word as familievas beskryf en het altyd vir sy kinders en kleinkinders tyd gemaak. Hy was voorheen met Brenda Kellerman getroud. Hulle het twee kinders, Sanet Kalp (50) en Bennie (49).

Een van sy gunsteling-vakansieplekke was Suiderkruis in Groot Brakrivier waar hy jaarliks vir die afgelope 40 jaar saam met familie en vriende vakansie gehou het.

Hy het ’n groot liefde vir sport, veral rugby, gehad, maar was ook gaande oor ou films en kon heerlik voor die televisie ontspan.

Kellerman word oorleef deur sy dogter, Sanet, en seun, Bennie, hul gades en drie kleinkinders.

Sy gedenkdiens sal op Saterdag (09/02) om 11:00 vanuit die NG kerk St. Helena in Welkom plaasvind.

My pa se beroep was sy groot voorliefde en passie. Hy het nie vir enige uitdagings gestuit nie en dié uitdagings baie geniet. – Bennie Kellerman

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.