Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boeliery kry kollig in video

’n Eerste vir die Goudveld is ’n splinternuwe kortrolprent wat vervaardig is om die breë publiek in te lig oor die gevolge en inpak wat boeliery op ’n persoon se lewe kan hê.

Die kortfilm Agter toe deure het uit die pen van die Welkomse skrywer, Pieter Bonthuyzen (45), gevloei.

Dié skrywer, met twee boeke agter sy naam waarvan een oor boelie-gedrag handel, voel sterk om kinders in te lig en ’n boodskap van hoop uit te stuur.

Die rolprent handel oor ’n groep tienermeisies wat ’n meisie as slagoffer uitkies. Hulle versuur haar lewe sonder dat hulle besef dat sy reeds baie trauma beleef.

Dis ’n kompakte video wat ’n duidelike boodskap uitdra, en verpligte kykstof is vir elke tiener of persoon wat geboelie word.

Die doel van die video is om mense, oud en jonk, meer bedagsaam teenoor hul medemens te laat optree. Die boodskap is ook om altyd respekvol en met integriteit teenoor mense op te tree omdat elke mens met iets in hul lewe worstel.

Daar skuil baie hartseer agter toe deure, sê Bonthuyzen. Dit is ook waar die titel van die film vandaan kom.

Die film is binne vyf dae geskiet, maar oor ’n tydperk van drie weke. Dit is ongeveer 20 minute lank.

Die hoofrol van Marna van Tonder wat die slagoffer in die storie is, word deur Layla de Hart (14) vertolk. Die drie boelies word deur Wilona Steyn, Megan Nel en Rianè Breedt vertolk. Geneviève Micenko Schourie speel die skoolberader, Tania Snyman vertolk die rol as onderwyser, Margie van Tonder (die ma van Marna) deur Benita Grobler en die tuisverpleegster deur Estie Breedt.

Tonele is onder meer by die Goudveld-Hoërskool en verskeie private huise in Welkom geskiet. Die video is deur Twins Publikasies en PVR Productions vervaardig.

Bonthuyzen was hoofsaaklik vir die draaiboek, regie en redigering verantwoordelik. Pieter van Rooyen van PVR Productions was die mede-vervaardiger, en was ook vir die klankbaan verantwoordelik.

Bonthuyzen hoop om die video na skole te bring waar hy ook ’n opvoedkundige praatjie oor boeliery sal lewer.

Uit sy kreatiewe pen het twee boeke die lig gesien: Noupoort in 2017 en Sterligkinders in 2018.

Albei die boeke raak gebroke mense en kinders se lewensverhale aan.

Bonthuyzen is tans druk besig om aan sy derde boek te werk en hoop om dit teen die einde van die jaar bekend te stel.

Toekomsdrome vir die skrywer is om ’n vollengte rolprent te vervaardig en binnekort nog ’n opvoedkundige kortrolprent die lig te laat sien.

Die kortfilm is tans beskikbaar op YouTube, Vimeo, Facebook en Instagram. Dit kan moonlik ook op Vevo en IMDb verskyn.

Die première van Agter toe deure is Saterdag (08/06) om 19:00 in die Ernest Oppenheimer-skouburg in Welkom.

Kaartjies kos R10 per persoon en die drag is semi-formeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.