Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dié koerante speel ’n al hoe groter rol

In haar aankondiging dat Die Burger Oos-Kaap voortaan net op Vrydae gaan verskyn, noem die uitvoerende hoof van Media24, Esmaré Weideman, dat die relatiewe sukses van hul gemeenskapskoerante in daardie kontrei tot die besluit bygedra het.

Sy stel dit mooi: Adverteerders verkies “toenemend die reikwydte van die maatskappy se sterk portefeulje gemeenskapskoerante”.

Dat die opvolger van Oosterlig ook nou die knie voor ekonomiese werklikhede moes buig, is hartseer, maar die goeie nuus is dat die Vrydaguitgawe van Die Burger Oos-Kaap voortleef.

Ook dat sommige gemeenskaps­koerante nog sterk staan.

Sirkulasiesyfers van betaalde gemeenskapskoerante neig egter ook afwaarts en dit lyk vir sommige waarnemers asof alle gemeenskapskoerante in die toekoms dalk gratis gaan wees.

Daar is juis talle winsgewende gratis gemeenskapskoerante wat hul sukkelende moederdagblaaie ondersteun – finansieel en met inhoud. Dit geld vir al die groot koerantgroepe: Media24, Caxton en Independent.

Vir mense buite die koerantbedryf lyk dit na ’n vreemde ekonomie. Hoe kan gratis koerante meer geld maak as dié waarvoor jy moet betaal?

Die antwoord is eenvoudig: Gratis koerante word by elke huis afgelewer en so bereik die adverteerder veel meer mense. Dié koerante is dus gewilder by adverteerders. En dit betaal die rekeninge.

Daar is ’n voorbehoud: goeie joernalistieke gehalte. Koerante wat net ’n voertuig is om ’n paar supermarkadvertensies te dra, word nie gelees soos dié wat deur bekwame joernaliste uitgegee word nie.

Goeie gemeenskapskoerante (met ’n omslagprys of gratis) bied aan hul gemeenskappe ’n stem wat dagblaaie en ander media nie kan nie. Dagblaaie het net nie meer die ruimte om allerlei plaaslike nuus te dra nie.

Dit was nog altyd gemeenskaps­koerante se kos – nou meer as ooit.

Waar die sosiale media mense se behoefte aan meer persoonlike nuus vul, wakker dit dalk ook die behoefte aan goed gerapporteerde plaaslike nuus aan. Dit is potensieel tot gemeenskapskoerante se voordeel.

Waar nasionale adverteerders lankal dagblaaie vir TV verruil het, het kleinhandel-adverteerders lank hul potensiële klante ook in dagblaaie gesoek. Nou soek adverteerders met beperkte begrotings hul klante toenemend in gemeenskapskoerante met groter markpenetrasie, presies waar die potensiële klante is.

’n Opvallende uitsondering is die groot supermarkgroepe, wat steeds verkies om ook in dagblaaie te adverteer. Dit bring ons ongelukkig by ’n punt waar die dagbladbedryf nogal erg afhanklik geraak het van dié adverteerders.

Was dit nie vir dié swaargewigte se groot volblad-advertensies nie, het al die dagblaaie dalk al na ’n ponieformaat oorgeskakel, dus die kompakte formaat van omtrent alle gemeenskapskoerante, sommige dagblaaie en bylae in die koerante.

Tog is dagblaaie se tyd nog nie om nie. Een voorbeeld is die Son, wat veral in die Wes-Kaap sterk staan.

Ek sou ook wou byvoeg dat dagblaaie joernalistiek gesproke in die algemeen van hoër gehalte is. Hulle gee ook ’n breër blik op die land en wêreld.

Die rituele lees van die koerant is boonop steeds vir duisende ’n daaglikse plesier en voeg waarde toe tot hul lewe. Dit maak hulle meer ingeligte (en interessante!) mense.

Die dagblad het dus steeds ’n eiesoortige plek – al is dit vir minder mense as vroeër.

Naas die dagblad het goeie gemeenskapskoerante eweneens ’n belangrike rol te speel – selfs groter as voorheen.

  • Prof. Johannes Froneman, verbonde aan die Noordwes-Universiteit.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.