Nols Schoeman, Riebeeckstad:
Wat ’n pragtige prentjie begroet jou by die ingang na Welkom. Nogal by die hoofingang.
Ek skryf al maande lank briewe om te versoek dat die afvalboumateriaal – waarop onkruid al groei – verwyder word.
Ons kry dikwels vriende van die buiteland wat vir ons kom kuier.
Ons kry skaam, want hulle sê hulle kan nie glo die Goudveld lyk so sleg nie. Hulle sal ons nie weer kom besoek nie.
Die Goudveld is een groot vullishoop.
Die veld langs talle strate in Riebeeckstad, soos op die hoek van Mozart- en McLeanstraat, is toegegroei. Jy moet omtrent driekwart oor die pad ry om aankomende voertuie te sien.
My vrou was amper in ’n ongeluk toe sy wou oorry om te sien of voertuie aankom. Gelukkig het die aankomende voertuig uitgeswaai.
Ek rig nou ’n ernstige versoek aan die munisipale bestuur om dringend aandag aan hierdie gevaarlike situasie te gee.
Ek vra ook dat die ingang na Welkom opgeruim en netjies gemaak word.
Ek glo en vertrou dat hierdie versoeke goedgunstiglik oorweeg sal word en dat die kwessies spoedig aandag sal geniet.