Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gemoedere loop hoog oor grond

Honderde mense kon nie Dinsdag (03/07) sitplek in die Ferdi Meyer-saal in Welkom kry nie en het buite op luidsprekers na die toesprake geluister.

Sprekers wat ten gunste van ’n verandering aan artikel 25 van die Grondwet is, is toegejuig terwyl mense wat daarteen gewaarsku het, uitgejou is.

Daar was ook groot ontevredenheid omdat ’n boer van die Tokologo-gebied, Willie Buys, sy toespraak in Afrikaans gelewer het.

Daar was nie ’n tolk beskikbaar om Buys se toespraak te vertaal nie en die gehoor het oproerig geraak.

Buys het hierna om verskoning gevra en gesê sy Engels is baie swak. Hy het dit wat hy gesê het, in gebroke Engels herhaal en gevra of die grond wat onteien word produktief sal bly.

Die beginsel van vrywillige koper en verkoper is die hoofrede waarom grondhervorming in Suid-Afrika misluk het, het Vicky Morris, ’n ANC-raadslid van Welkom, Dinsdag gesê.

Nog ’n spreker het gesê grondhervorming het misluk omdat wit grondeienaars te gierig is en te veel geld vir grond wil hê wat dit vir die regering moeilik maak om plase te koop. Daarom moet die regering nou plase onteien, het die man gesê.

Morris en die burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit, Nkosijane Speelman, is toegejuig toe hulle tydens die vergadering gepraat het.

Speelman het gesê alle eiendomme, ook myne en ander privaateiendom, moet sonder vergoeding onteien word.

“As dit nie gegee word nie, sal ons dit vat,” het Speelman onder toejuiging gesê.

Boelie Bothma, ’n boer van Bothaville, het gesê die regering het sedert 1994 al 4 000 plase gekoop maar hy dra nie die titelaktes aan swart mense oor nie.

“Hoekom wil die regering grond steel as hy reeds miljoene hektaar besit?” het Bothma gevra.

“Ons is nie teen grondhervorming nie, maar teen onteiening sonder vergoeding,” het David Ross, DA-LP, gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.