Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Gesin ná tref-en-trap-ongeluk gegroet

Verslae geliefdes het Saterdag (13/04) in die Vrye Baptistekerk in Welkom van Theuns (39), Elmarie (38), Tristan (8) en Amory (4) Lubbe afskeid geneem.

Buite die kerk het die vier lykswaens getuig van die tragedie wat twee weke gelede buite Odendaalsrus afgespeel het toe die Lubbes en nog ’n kind, Juliana Gomez (6), in twee ongelukke dood is.

Ds. Hannes Delport het Psalm 34:18-20 voorgelees en gesê die Here is naby die gebrokenes en Hy help die moedeloses.

Hy het in sy troosboodskap gesê elkeen moet gereed wees om die Here te ontmoet, en dat hy glo Jesus het die gesin ingewag.

Delport het gesê baie mense se lewe is deur die gesin se dood geraak, maar mense moenie verbitterd wees nie.

“Ons moet toelaat dat God ons rig. God het medelye met ons pyn,” het hy gesê.

’n Skyfievertoning met talle foto’s van die gesin was deel van die diens.

“Die Here is my herder” en “Amazing Grace” is gesing.

Kollegas van Theuns, wat by die Elandskag by Saaiplaas gewerk het, het ’n erewag vir die kerkgangers gevorm.

Die vier kiste is nie die kerk ingebring nie en daar is by die lykswaens van die gesin afskeid geneem.

Die gesin was die aand van 30 Maart op pad terug na hul huis in Allanridge nadat hulle ’n werkgeselligheid van Theuns in Welkom bygewoon het.

Die gesin se motor het buite Odendaalsrus omgeslaan en Elmarie is in die ongeluk dood.

Oomblikke later is Theuns, sy twee kinders en Juliana op die ongelukstoneel doodgery.

Juliana se geliefdes het haar Saterdag in ’n aparte roudiens gegroet.

Neels Lubbe, Theuns se neef, sê hy vergroot die beloning om die bestuurder wat die vier doodgery het op te spoor.

Lubbe het verlede week R20 000 uitgeloof, maar sê hy sal nou ’n groter bedrag gee vir enigeen wat kan help om die bestuurder van die wit Ford Ranger-bakkie op te spoor.

Die bestuurder het te voet van die toneel gevlug.

Die polisie in Welkom is op soek na die eienaar van die bakkie wat van Bloemfontein af is.

  • Enigeen wat kan help om die bestuurder van die bakkie op te spoor, kan 078-825-9881 skakel.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.