Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Griffons kry nuwe hoofafrigter
Jacques Juries (45)

Die winde van verandering in die Goudveld het meegebring dat die Griffon-rugbyunie van 1 Januarie af met ’n splinternuwe hoofafrigter spog.

Jacques Juries (45) het die pos by Oersond Gorgonzola, wat ’n dekade lank hoofafrigter van die Griffons was, opgeraap.

Juries is Vrydag (30/11) tot nuwe hoofafrigter vir die rugby­seisoen van 2019-’20 verkies.

Gorgonzola, wat sedert 2008 die Perstruie afgerig het, se kontrak sal op 31 Desember verstryk.

“Jacques Juries, Oersond Gorgonzola en Eric Herbert was die drie mees geskikte kandidate op die kortlys uit 19 aansoeke vir die hoofafrigterspos,” sê Eugene van Wyk, uitvoerende hoof van die Griffons.

Gorgonzola en Herbert, ook ’n welbekende en legende in Griffon-rugbykringe, is as hulpafrigters behou en al drie sal ook nou die o.20-Griffons se afrigting behartig.

Die res van die Griffon-bestuurspan sal in Januarie deur die Griffon-direksie en Juries gekies word.

“Ons vertrou dat ons ’n gebalanseerde afrigtingbestuurspan verkies het, wat uit jeugdigheid en onvervangbare ervaring bestaan.

“Ons glo dat dit tot voordeel sal strek vir die ontwikkeling van talent in ons gebied.

“Al drie het ’n lang en sukses­volle geskiedenis van afrigting by die Griffons en dit is ’n reuse-voorreg om hierdie manne tot ons beskikking te hê,” sê Van Wyk.

Juries, ook ’n oud-Griffon-rugbyspeler, is sedert 2006 as hulp­afrigter aktief by die Griffon-rugbyunie betrokke en het destyds saam met Harry Pienaar afgerig.

Hy is vir die afgelope 16 jaar ’n provinsiale afrigter en was vroeër by die Suid-Wes Distrikte (SWD) se o.20-rugbyspan betrokke.

Rugby vloei sterk deur die are van die Juries-familie. Die legendariese rugbyspeler Jack Juries is Jacques se pa en Juries se oudste seun, Jughon (10), speel vir sy skool se o.11A-span.

“Ek besef die nuwe pos is ’n uitdaging, maar ek is ook opgewonde omdat dit ’n geleentheid is om myself te verryk,” sê Juries.

  • Die 2019-rugbyseisoen is ’n kort seisoen vanweë die wêreldbeker-toernooi wat volgende jaar plaasvind.

Die Curriebeker eerstedivisie-eindstryd sal reeds op 31 Augustus beslis word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.