Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Groet Goudveld ná 71 jaar

Tersia Badenhorst, wie 71 jaar in Virginia gewoon het, het die Goudveld vir die Paarl verruil om by haar kinders te wees.

Sy vertel graag stories en staaltjies van haar geliefde dorp, vanaf Kassieshoogte en Paddavlei tot en met Virginia self. Dit is stories van vreugde en ook van hartseer.

Tersia het diep spore in die gemeenskap, en veral in die lewe van kinders, getrap. Sy was ’n onderwyser van formaat, ’n “teacher”, soos die kinders haar genoem het.

Sy het ook die Boer en Brit-gastehuis in Virginia bestuur en haar ook voluit hier uitgeleef.

Talle besoekers, en selfs buitelanders, was gaande oor dié gastehuis.

Omdat die tuin so besonders was, het selfs vreemdelinge daar gestop en gevra of hulle haar tuin en gastehuis kan besigtig. Tersia het sulke besoekers altyd verwelkom en dan boonop met koek en tee trakteer.

Volgens haar enigste suster, Antoinette Schoeman van Welkom, is Tersia nederig in alle opsigte. Vir Antoinette is Tersia ’n rolmodel, nes hul ma. Hul ouers was bekendes in Virginia – oom Shorty en tannie Bez Bezuidenhout.

Tersia se onderwysloopbaan was beslis een van die hoogtepunte van al die jare wat sy in Virginia gebly het.

Sy het verskeie provinsiale sportsertifikate verwerf en was ook ’n provinsiale skole-afrigter en skeidsregter in netbal en spiesgooi.

Tersia het vir 43 jaar by die Laerskool Merriespruit en by die Nobilis-skool in Virginia skoolgehou. Sy het die vakke rekeningkunde, Afrikaans, Engels en biologie aangebied en by Nobilis was sy by remediërende onderwys betrokke.

Tersia was ook by die aanbied van skoolkonserte en kunsaktiwiteite betrokke.

Sy het ’n besondere liefde vir kinders en minderbevoorregtes gehad en het altyd haar eie behoeftes eenkant geskuif om ander te help.

“Hierdie fynbesnaarde vrou is een van God se aardse empatie-engele. Geen probleem is vir haar te groot om op te los nie. Sy glo daar is net een paadjie om te loop en dit is die reguit paadjie,” sê Antoinette.

Volgens Antoinette glo Tersia dat ’n mens nie gaan lê en jouself jammer kry wanneer jy ’n fout gemaak het nie.

“Dit is jy wat fouteer het; dit is jou plig om die werklikheid van jou dade raak te sien en dit reg te maak. Niemand anders kan nie, net jy kan,” vertel Antoinette oor haar suster se lewenswyshede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.