SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Nuus
Krieket is bejaarde se passie

Max Stewien (84) van Odendaalsrus is seker een van die Goudveld se mees lojale en volbloed Protea-krieketondersteuners.

Max is ’n gekwalifiseerde elektrisiën wat vir jare aan die destydse Lorrainemyn, nou die Targetmyn, verbonde was.

Ná sy aftrede volg hy sedert 2006 elke Protea-krieketwedstryd slaafs na.

Hy hou noukeurig rekord van al die tellings, wie speel en waar die wedstryd plaasgevind het en natuurlik die eindtelling.

Hy het al ses A4-boeke vol geskryf en sien uit na die krieketseisoen wat voorlê.

“Sedert ek op pensioen is, het ek en my oorlede vrou Isabel saam krieket begin kyk. Ons het die sport geniet en ’n passie vir krieket ontwikkel.

“Toe het die idee ontstaan om boek te hou van elke wedstryd se telling sodat ons dit kon vergelyk met vorige wedstryde.

“Gewoonlik teken ek dit sommer op ’n rofweg stukkie papier aan, waarna ek dit netjies in my krieketrekordhouboek oorskryf,” sê Max.

Hy is ’n boorling van Germiston, wat in Cradock grootgeword en skoolgegaan het. Op skool het hy sokker gespeel en was nog altyd geïnteresseerd in basketbal.

Hoewel hy nooit self krieket gespeel het nie, het hy alles wat hy van krieket weet, geleer toe hy in 1998 afgetree het.

Hy het wedstryde op televisie begin volg en opgelees oor die sport en só sy breë kennis oor krieket opgebou.

Max kyk ook rugby en is ’n kranige Leeus-ondersteuner, en die Cheetahs is sy tweede keuse vir ’n span.

Tog bly krieket sy groot liefde en dit is altyd eerste op sy voorkeurslys.

Of die Proteas 02:00 of 10:00 speel, Max sorg dat al sy takies vroegtydig afgehandel is sodat hy nie ’n oomblik van die wedstryd misloop nie.

Die middernagtelike wedstryde sal hy saam met sy drie honde, Tiny, Candy en Snippie, in die bed lê en kyk.

“Dit was en sal altyd ’n groot droom van my wees om die Proteas in lewende lywe te sien speel.

“Weens omstandighede kon ek egter nog nooit so ’n wedstryd bywoon nie,” sê hy.

Sy gunsteling-krieketspelers is ongetwyfeld AB de Villiers en wyle Hansie Cronje. Hy sê De Villiers se veelsydigheid maak hom uniek en Cronje se veelsydigheid en uitstekende kapteinskap het hom beïndruk.

Dan het hy hoë agting vir Dale Steyn en Allan Donald met hul briljante boulwerk.

Max reken die beste krieketspan in die wêreld is tans Indië met die Proteas kort op sy hakke.

Max het twee kinders – sy seun Theodore wat in Johannesburg woon en sy dogter Jodi wat in Kaapstad woon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.