Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Lykskouings gestaak

Lykskouings in die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit is gestaak weens dokters in Welkom wat nie hernude of wettige kontrakte van die departement van gesondheid ontvang het nie.

Sonder kontrakte is die betrokke dokters ook nie vir hul dienste die afgelope jaar vergoed nie.

Die departement van gesondheid sê dat die dokters nie betaal is nie omdat hulle nie die nuwe kontrakte wou teken nie, maar die kontrakte is eensydig en sonder onderhandeling met die betrokke dokters deur die departement van gesondheid verander.

Dr. Willie van Heusden, een van die dokters wat lykskouings in Welkom doen, sê die kontrakte wat vir hulle aangebied is, is onwettig volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) se arbeidskonsultant en prokureurs.

Van Heusden en dr. Flip Nieuwoudt doen onderskeidelik vanaf 1979 en 1986 die lykskouings vir die staat.

Volgens Van Heusden het dr. Yusuf Vahed, streekhoof van forensiese dienste van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, hulle verbied om te werk indien hulle nie wettige kontrakte van die departement van gesondheid ontvang het nie.

Dit verhoog druk vir die doen van lykskouings in Bloemfontein, want die lyke van Welkom moet na Bloemfontein hiervoor geneem word.

Dié reëling veroorsaak ook chaos vir familielede wat begrafnisreëlings moet tref, dit belemmer die polisie met die ondersoek van sake en hofsake moet uitgestel word.

Die 32 sessies per jaar moet deur drie dokters hanteer word en Van Heusden en Nieuwoudt se nuwe kontrakte het bepaal dat hulle slegs 20 sessies mag doen.

Van Heusden sê egter dat dit onmoontlik is vir twee dokters met 20 sessies om al die lykskouings in die Lejweleputswa-gebied te behartig.

Al twee die dokters behartig gemiddeld 870 lykskouings per jaar.

Die Bothaville-distrik is ook intussen by die Welkom-staatslykhuis se gebied gevoeg.

Vista het Vahed gekontak.

Volgens hom is daar nie tans ’n probleem nie.

“Ons is op soek na geskikte dokters om die betrokke poste te vul. Die dokters wat nou daar is, is van die vorige bedeling. Dié poste sal gevul word,” sê Vahed.

Op 15 Maart 2016 het Van Heusden en Nieuwoudt kontrakte vir 32 sessies ontvang wat deur die forensiese bestuurder van die Vrystaatse departement van gesondheid, dr. R.J. Khoali, onderteken is.

Van Heusden en Nieuwoudt het in November 2016 ’n grief ingestel en dié saak is tans by die Arbeidshof.

Die gemeenskap van die Lejwelputswa-distrik word deur dié gesloer benadeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.