Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ma sterf in motorongeluk
06 September 2018

“Dit is absoluut hartverskeurend en onwerklik. Ek kan nog steeds nie glo my enigste dogter is weg nie,” sê ’n hartseer en gebroke Rina de Jonge, ’n bekende sakevrou van Welkom.

Haar dogter Susan Otto (37), het Saterdagmiddag (01/09) omstreeks 17:30 beheer oor haar Toyota Fortuner op ’n plaaspad verloor.

Sy het ’n vriend gaan aflaai nadat hulle saam gholf gespeel het.

Niemand is heeltemal seker hoe die ongeluk gebeur het nie.

Die vermoede is dat die voertuig se band gebars het en dat Susan beheer oor die voertuig verloor het.

Sy het in ’n sloot langs die pad beland.

Haar skoonouers het onraad vermoed toe sy nie huis toe kom nie.

Hulle het almal moontlik gekontak om te probeer uitvind waar sy is.

Ná ’n lang soektog deur vriende en lede van die gemeenskap in die Ottosdal-omgewing, het hulle haar langs die pad gekry.

Die owerhede sê sy het vermoedelik haar nek gebreek en is opslag dood.

Dié tragiese gebeure volg skaars ’n maand nadat die Otto-gesin op

4 Augustus in hul huis in Ottosdal deur gewapende rowers oorrompel is.

Die vermeende rowers het probeer om skote af te vuur en Susan te skiet. Die skote het nie afgegaan nie.

“Min het ek geweet dat Susan net nog ’n maand vir ons gespaar sal wees,” sê Rina.

Susan het in Welkom grootgeword en aan die Goudveld-Hoërskool in Welkom matrikuleer.

Sy het haarself as arbeidsterapeut aan die Universiteit van die Vrystaat bekwaam en het haar verpligte gemeenskapsdiensjaar by die Bongani-hospitaal in Welkom voltooi.

Susan het as arbeidsterapeut vir die staat in Ottosdal gewerk.

Sy was met Hannes Otto getroud en die egpaar het een seun, Hannes (9).

Haar geliefdes beskryf haar as ’n goedhartige, liefdevolle, gewilde en opregte mens.

Niks was ooit vir haar te veel nie en sy het altyd gehelp waar die nood hoog was.

Rina sê haar dogter en klein Hannes was onafskeidbaar en hy was die middelpunt van haar bestaan.

Susan sal onthou word as ’n uitstekende sportvrou wat gaande oor gholf en hokkie was.

“Oral waar sy gegaan het, het sy mense se lewens geraak en sy laat ’n groot leemte in haar familie en vriende se lewens,” sê Rina.

Die welbekende De Jonge-familie is sakemense van Welkom en Rina is aan die stuur van Ooba se huislenings in Welkom.

Susan se roudiens vind Vrydag (07/09) vanuit die NG kerk Suid in Ottosdal plaas.

Sy word deur haar man Hannes, seuntjie Hannes, ouers Rina en Joop de Jonge, en twee broers, Herman en Jopie, oorleef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.