Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Man 10 j. vir dade gestraf

Die kindermishandelingshofsaak waarin ’n tweejarige seuntjie in pleegsorg mishandel is en verlede jaar groot opslae gemaak het, is Donderdag (28/06) afgehandel.

Gerrie Martins (50) en sy verloofde, Jo-Anne Davis (48), van Harmony in Virginia, is vir die aanranding, kindermishandeling en verwaarlosing van ’n tweejarige seun gevonnis.

Die paartjie is op 15 Junie 2017 in hegtenis geneem nadat die grusame mishandeling deur vriende van die paartjie aan die owerhede gerapporteer is.

Owerhede het die paartjie se bedrywighede vir klagtes van aanranding, kindermishandeling, die versuim om aanranding van ’n kind aan te meld en poging tot moord op ’n tweejarige kind ondersoek.

Martins, in wie se sorg die tweejarige seun was, is ingevolge ’n pleitooreenkoms tot tien jaar effektiewe tronkstraf gevonnis. Hy is skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer – op ’n kind jonger as 16 jaar – en op ’n aanklag van kindermishandeling en -verwaarlosing.

Davis is tot drie jaar korrektiewe toesig gevonnis. Sy is skuldig bevind aan kindermishandeling en -verwaarlosing.

Die tweejarige seun en sy broer is in die sorg van Martins en Davis geplaas omdat hul 24-jarige biologiese ma nie vir hulle kon sorg nie.

Die ma is ook ingevolge ’n pleitooreenkoms tot drie jaar tronkstraf gevonnis wat in die geheel vir vyf jaar opgeskort is.

Sy moet verskeie kursusse in lewensvaardighede bywoon.

Die ma het erken sy het geweet dat haar kind mishandel word en dat albei haar minderjarige seuns aan vreeslike gewelddadigheid blootgestel was. Sy het egter nie hulp gaan soek nie.

Die mishandeling van die tweejarige is eers beëindig toe vriende tydens ’n kuier in Riebeeckstad foto’s van die kind se beserings geneem het.

Martins is tydens die kuier oor die beserings gekonfronteer, en hy het beweer die kind het geval.

Die owerhede is na die huis in Riebeeckstad ontbied, maar die polisie is daar weg sonder om self na die seun te kyk.

Die mishandeling en aanranding is onder die aandag van Charmaine Labuschagne, die beheeraanklaer van die hof vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe gebring waarna die polisie die saak ondersoek het en ingegryp het. Die kinders is verwyder en in ’n kinderhuis geplaas.

Verlede jaar het landdros Annaria Camphor in Martins se borgaansoek gesê mense leef in vrees vir hom en word deur hom geïntimideer. Sy het Martins as ’n boelie beskryf.

Labuschagne sê daar is al voorheen sewe dossiere van aanranding teen Martins oopgemaak en vier beskermingsbevele weens gesinsgeweld is teen hom verkry deur vorige lewensmaats of eggenotes. Die departement van welsyn het nie die agtergrondondersoek gedoen voordat die kinders in sy sorg geplaas is nie.

Owerhede maan die publiek dat dit ’n ernstige oortreding is om te weet dat kinders se lewe in gevaar gestel word, en dit nie aan te meld nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.