Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Mentor’ reeds gemis

Medelye en huldeblyke stroom in nadat ’n geliefde oudonderwyser van Welkom-Gimnasium sy jare lange stryd teen kanker verloor het.

Johan “Zonk” van Rooyen (68) is Saterdag (05/01) omstreeks 05:00 in die St. Helena-hospitaal in Welkom dood.

Rudolph Cloete (66), oudskoolhoof van Welkom-Gimnasium, sê Van Rooyen was ’n legendariese onderwyser en baie geliefd onder sy leerlinge.

“Hy het altyd ’n goeie verhouding met sy leerlinge gehad,” sê Cloete.

Jannie Makkink (47), ’n onderwyser en oudkollega, sê Van Rooyen het moedig en met waardigheid teen kanker gestry.

Makkink sê die positiewe gesindheid waarmee Van Rooyen elke dag aan­gepak het en bly praat het oor sy planne vir wanneer hy uit die hospitaal kom, sal hom altyd inspireer.

Van Rooyen het in 1976 by Welkom-Gimnasium begin werk en is later as departementshoof van geskiedenis aangestel.

Hy was ’n Vrystaat-atletiek­afrigter en die afrigter van die skool se eerste rugbyspan.

Met sy aftrede in 2011 was hy steeds ’n departementshoof en hy was jare lank ’n senior sub-eksaminator in die Vrystaat.

Boodskappe van bemoediging en simpatie het op die Facebook-blad Welkom-Gimnasium Skool ingestroom.

Juanita Wernich skryf: “Mnr. Zonk van Rooyen het so ’n groot impak op soveel van ons se lewe gehad, die heel beste onderwyser en mentor wat enigiemand ooit kon hê.

“Dankie vir al jou positiewe insette in my lewe. Rus sag mnr. Zonk, die wêreld is leër sonder jou.”

Georgi Mertz sê dit is ’n baie swaar dag.

Sy (Van Rooyen se) hart was altyd oop vir al die kinders, veral die afvlerk-voëltjies.

Louise Visagie Dressler skryf: “Dit is beslis een van die onderwysers wat nooit ooit vergeet sal word nie. Rus sag saam met jou jare lange geliefde cocker spaniel. Julle gaan nou die ewigheid instap.”

Van Rooyen word deur sy broer, Merwe van Rooyen, oorleef.

Hy word vandag (10/08) om 15:00 vanuit die Lighuis-bediening in Welkom begrawe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.