Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Met atletiekbeurs op pad na die VSA
  • ’n allemintige sportbeurs in Amerika losgeslaan
  • 'n mikrobiologiese student
  • op ’n baie jong ouderdom uitgeblink in sport
Colette Uys (20) 'n voormalige leerling van die Riebeeckstad Hoërskool het 'n sportbeurs in Amerika losgeslaan. Foto:Verskaf
Colette Uys (20) van Riebeeckstad is 'n veelsydige jong vrou en gaan danksy haar atletiektalent in Amerika studeer. Hier is sy in aksie op die atletiekbaan.Foto: Verskaf
Colette Uys (20) van Riebeeckstad 'n veelsydige jong dame gaan danksy haar atletiektalent in Amerika studeer.Foto: Verskaf


Ek is baie opgewonde, maar ook skrikkerig vir die vreemde en nuwe ervarings

’n Riebeekstadter het ’n allemintige sportbeurs in Amerika losgeslaan.Die 20-jarige Colette Uys spog met ’n indrukwekkende akademiese en sport resumé.

Sy is ’n mikrobiologiestudent in haar tweede jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en is baie opgewonde oor dié groot geleentheid.

Colette het al op ’n baie jong ouderdom uitgeblink in sport en boonop is sy ’n veelsydige jong vrou wat op verskeie gebiede haar stempel afdruk.

Paul Brueske, ’n atletiekafrigter van die Universiteit van Suid-Alabama, het haar via Instagram, ’n sosialemediaplatform, gekontak. Dít nadat hy haar sportprestasies geruime tyd dopgehou het en al haar puik prestasies op Atletiek Suid-Afrika (ASA) gesien het.

“Einde Februarie het Paul my gekontak en vir my ’n atletiekbeurs aangebied. Hulle het vir my gesê ek het tyd tot Donderdag 16 April om finaal ’n besluit te neem,” sê sy.

Intussen het sy as gelowige hard gebid oor die saak en was sy daagliks met Paul in kontak oor die reëlings.

Sy het toe laat weet dat sy die beurs aanvaar en haar in Augustus 2020 by hulle sal aansluit.

“Ek is baie opgewonde, maar ook skrikkerig vir die vreemde en nuwe ervarings,” sê sy.

Dit is egter nie vir haar lekker om haar familie en geliefdes agter te laat nie, maar sy sien dit as ’n geleentheid om in haar toekoms te belê.

Haar droom is nog altyd om mense te help en daarom wil sy graag verder medies studeer.

In Suid-Alabama gaan sy biomediese wetenskappe studeer ter voorbereiding van haar toekomstige mediese studies.

Die beurs sluit haar klasgeld, koshuisgeld, etes, diskusskoene en al haar reisonkoste vir atletiekbyeenkomste in Amerika in.

Sy moet ongelukkig self haar vliegkaartjie en visum betaal wat haar R24 000 uit die sak gaan jaag. Die gelde moet dadelik betaal word, omdat sy op 10 Augustus met die oriëntasieprogram moet begin.

Sy was die hoofmeisie van die Laer- en Hoërskool Riebeeckstad en ’n slimkop wat gereeld in die toptien geskitter het met uitsonderlike akademiese prestasies wat sy behaal het.

Op kuns-en-kultuur-gebied het sy ook nie teruggestaan nie en in haar matriekjaar is sy as die dux-leerling aangewys.

Sy spog met Vrystaat-kleure in atletiek en gimnastiek. Dan was sy boonop kookwater op die netbalbaan.

Sy studeer met ’n sportbeurs aan die UV en in 2020 is sy ook as deel van Kovsies se Golden Key-studente gekies.

Sedert 2011 was sy elke jaar vir die Vrystaatse atletiekspan gekies en het vele rekords laat spat.

“Ek glo my prestasies is te danke aan my Hemelse Vader wat my geseën het met talente. Sonder Hom sou dit nie moontlik gewees het nie,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.