Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘ ’n Stamp’ draai in hof

“Ek is steeds stomgeslaan oor die feit dat ’n persoon uit die bloute ’n ander sonder rede met die vuis bydam, sonder enige verduideliking. Ek is steeds in skok,” sê ’n hoogs ontstelde Divan Cross (32), ’n sakeman van Welkom.

Fanie Vermaak (21), ’n rugbyspeler van Welkom, het op Woensdag 25 April in die Welkomse landdroshof verskyn op ’n aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hy Cross in ’n openbare kuierplek in die stad aangerand het.

Vermaak is nie gevra om te pleit nie en die verhoor is tot 31 Mei uitgestel.

Cross en sy vriende het Woensdag 11 April die weeklikse karaoke-aand by ’n kuierplek bygewoon.

“ Ons was ongeveer 16 mense – almal lesbies, gay of transgender – wat by ’n lang tafel gekuier en die aand geniet het. Ons kuier altyd daar sonder enige onaangename voorvalle en ken die eienaar baie goed. Omstreeks 01:45 wou hulle die rekening betaal en my lewensmaat, Jaco Koekemoer, het sy beursie in die voertuig gaan haal,” vertel Cross.

Terwyl hulle vir Koekemoer gewag het, wou Cross die platejoggie vra om nog een liedjie te speel. Dit is toe dat Vermaak, wat die pad glo versper het, Cross blykbaar bygedam het sonder om ’n woord te sê. Cross het hard op die grond neergeslaan.

Koekemoer het Cross huilend gevind terwyl hy sy kakebeen vasgehou en na Vermaak gewys het.

Buite die kuierplek het Koekemoer vir Vermaak konfronteer en hulle is glo bykans weer aangerand.

Hulle is terug die kuierplek in en die veiligheidshek is vir hul beskerming gesluit.

Die volgende oggend het Cross besef hoe seer hy gekry het en dat sy hele lyf met kneusplekke oortrek was.

Die voorval is op beeldmateriaal van die kringtelevisie in die kuierplek te sien.

Cross het dit op Facebook, op soek na sy vermeende aanrander, geplaas. Vermaak het Cross deur Facebook gekontak en gesê dit was net ’n stamp.

Vermaak het glo gesê sy prokureur sal met Cross in verbinding tree oor ’n saak van naamskending.

Cross sê hy het Vermaak na sy (Cross) prokureur, Yolandi Hewetson, verwys.

In ’n trauma-verslag wat deur ’n maatskaplike werker uitgereik is, sal dit Cross ongeveer drie maande neem voor hy weer normaal sal kan funksioneer en van die trauma herstel het.

“Ons is nou te bang om iewers heen te gaan,” het Cross aan Vista gesê.

Die DA se vrouenetwerk, Dawn, het Cross buite die hof ondersteun. Cross is ook deur gemeenskapslede ondersteun. Facebook-gebruikers het oor die voorval gegons.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.