Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oud-Goudvelders vertel van Covid-19

Covid 19 saai nie net paniek onder Suid-Afrikaners nie, maar ook wêreldwyd staar die gevreesde pandemie mense in die gesig.

Dit is onsekere tye en niemand weet regtig wat om te verwag nie.

Vista het met ’n paar Suid-Afrikaners (oud-Goudvelders), wat in die buiteland woon en werk, gesels om te hoor hoe hulle die situasie in hul onderskeie lande ervaar en watter maatreëls daar gevolg word.

Sorika Jones, ’n gebore Goudvelder wat die afgelope 17 jaar in die Verenigde Koninkryk woon, deel haar ervaring.

“Vanaf Woensdag 18 Maart werk ons almal wat kan van die huis af en ons skole het op Vrydag 21 Maart gesluit.” “Ons kinders is met ’n opvoedingspakket huis toe gestuur. Ons as ouers het riglyne gekry en ook ’n voorgestelde skedule, wat ons moet volg om die skoolwerk op datum te hou.” Dit is nogal ’n uitdaging omdat ons met ons normale werk voortgaan en dan tuis- onderrig ook moet toepas.” Jones sê ook dat hulle nou in volinperking is en die Vergenigde Koninkryk het bykans dieselfde reëls as wat op Suid-Afrikaners van toepassing is. Hulle kan darem in hul tuine ontspan en haar persoonlike fiksheidsinstrukteur stuur aanlyn oefeninge wat hulle tuis kan doen. Daar is ook sprake dat die inperking in die Verenigde Koninkryk moontlik tot in September kan duur.

Dr. Susan van der Merwe, wat voorheen in Riebeeckstad saam met dr. Piet du Toit gepraktiseer het, vertel van haar ervaring met Covid-19. Van der Merwe woon in Withcott, Queensland, Australië.

“Ubuntu- ‘I am because we are,’ of ‘humanity towards others,’ is werklik iets van die Goudveld wat ek erg hier in Australië mis. Selfs ná 10 jaar hier, is dit frustrerend om te sien hoe dras- ties verskillend die eerste wêreld se fokus op tyd en mense is.

“Met tegnologie, welvarendheid en volop werksgeleenthede, kom ’n sin van selfregverdiging waarin ons ons medemense dikwels afskeep,” sê Van der Merwe.

Sy stem saam dat Covid-19 die wêreld op sy kop gedraai het en ons leefwyse drasties verander het. Die oud-Suid-Afrikaner hunker na die eenvoudige menslikheid van wie is jou bure en of hulle iets nodig het. Sy re- ken dat die tipe omgee stadig maar seker kop uitsteek waar sy nou woon en werk.

Angstigheid wat in paniek manifesteer, is wel in Australië te bespeur sê sy. “Die Aussies het die wêreld heerlik vermaak met ons vergrype aan toiletpapier.”

Sy het onlangs met ’n oorlogveteraan van Australië gesels en hy reken die mensdom skakel outomaties oor in ’n verdediging-, beskerming- en oorlewingsmeganisme in onseker tye. “In die tyd is daar beslis ook ’n hunkering by mense om hul geliefdes veilig te sien. Ek hoop van harte dat almal toenemend so oor die vreemdeling wat langs jou woon en ons medemens sal voel.”

Van der Merwe sê die Australiese regering het mediese dokters die vergunning gegee om van Maandag (30/03) konsultasies via telefoon of video-oproepe met pasiënte te doen om die druk op mediese praktyke in die land te verlig.

Die bekende Goudvelder dr. James Scott, ’n kliniese sielkundige, woon in Toowoomba, 120 km van Brisbane in Australië.

Scott, wat aan die Goudveld-Hoërskool gematrikuleer het, was by die destydse Vista-universiteit in Welkom betrokke.

“Australiërs is gewoond aan reëls. Dit is dalk daarom dat die meerderheid van hulle skynbaar maklik by die reëls van isolering en sosiale afstand aanpas. Ons is nog nie in inperking nie, maar mense bly meestal tuis. Strate, inkopiesentrums en sentrale besigheidsgebiede is verlate. Daar mag nie meer as twee mense vergader nie, en daar is nêrens ’n bejaarde Aussie in sig nie, want mense oor 70 word ernstig gemaan om te selfisoleer,” sê Scott.

Duisende Australiërs het hul inkomste verloor en die regering moet sy hand diep in die staatsbeursie steek. As kliniese sielkundige kan hy ook sien hoe sy pasiënte onder verskillende omstandighede in die moeilik tyd moet aanpas. “Ons is kuddediere en soek vriende en familie op wanneer ons emosioneel swaarkry. Dit is ons nie nou beskore nie,” sê Scott.

Almal van oor die wêreld heen is dit eens dat die koronavirus reeds heelwat verwoesting gesaai het en dat ons lewens ná die pandemie drasties ’n ander wending sal neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.