Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Phahameng-inwoners voel afgeskeep
Phahameng

Die inwoners van Phahameng, Bultfontein, is keelvol vir die burgemeester, Tankiso Matsholo, wat hulle beweer nie sy werk doen nie.

Hulle het Donderdag (29/11) ’n protesoptog oor swak dienslewering in dié woonbuurt gehou en ’n lys griewe aan die burgemeester oorhandig.

Inwoners eis dat Matsholo en sy raadslede bedank. Die protesorganiseerder, Lebohang Mofokeng, sê inwoners is kwaad omdat hulle voel hulle lewenstandaarde slegter is as dit van die inwoners van Tikwana, Hoopstad.

Albei hierdie dorpe val onder dieselfde munisipaliteit, die Tswelopele- plaaslike munisipaliteit.

“Die inwoners van Tikwana, Hoopstad, kry alles wat hulle nodig het omdat die burgemeester in Hoopstad bly,” sê Mofokeng.

Inwoners is ook ontevrede omdat die water in hul woonbuurt gereeld sonder kennisgewing afgeskakel word. Hulle is ook ontevrede oor die behuisingprojek waar die huise wat reeds gebou is se mure en plafonne kraak.

Nog ’n kwelpunt is die tweevertrekhuise in Phahameng wat nog ekstra kamers moet kry.

“Ons wil ook hê dat die gratis elektrisiteit wat ons altyd gekry het, weer ingestel moet word. Inwoners wat kospakkies gekry het, moet dit weer kry. Die polisiekantoor wat reeds in Phahameng is, moet weer funksioneer. Dié een in die dorp is baie ver vir die inwoners wat ver van Bultfontein af woon. Verder soek ons sekuriteitsbeamptes by die munisipale-geboue,” sê Mofokeng.

Hy sê die burgemeester moet die probleem aanspreek waar mense aangestel word wat nie van Bultfontein af kom nie. “Hier is inwoners van Bultfontein en Phahameng met geskikte werkskwalifikasies, maar hulle kry nie werk nie,” sê Mofokeng.

Tswelopele se burgemeester, Tankiso Matsholo, sê dit is nie regverdig dat die inwoners protes aanteken sonder konkrete bewyse nie. Hy sê hierdie is die derde groep inwoners wat protesteer oor dienslewering.

“Ons kry water van die Sandvet-skema. Verder is die inwoners van Tikwana nie dieselfde as die inwoners van Phahameng nie. Die bevolking is nie dieselfde nie,” sê Matsholo. Die burgemeester sê sedert 2011 is daar 2 500 huise in Phahameng met waterpompplekke.

“Dit is die rede waarom sekere dele van Phahameng se water nou en dan af is,” sê hy.

Die burgemeester het die onderneming gegee om aandag aan die waterprobleem te gee. Hy sê werkloosheid is nie net ’n probleem in Bultfontein nie, maar landwyd.

“Die gemeenskap moet vir hul dienste betaal. Dit is nou drie jaar wat die gemeenskap nie vir dienste betaal nie,” sê Matsholo.

Hy sê daar is planne om vooruitbetaalde watermeters by die huise te installeer.

Die burgemeester is tien dae gegee om op die gemeenskap se eise te reageer.

– Kananelo Mokoena

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.