Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Sy laat geregtigheid seëvier

Charmaine Labuschagne is die beheeraanklaer vir die hof vir seksuele mis­drywe en verwante sake in die Goudveld. Die afgelope 26 jaar al is dit dié Goudvelder in murg en been se uit­dagende werk, wat ook haar passie is.

“Ek het vroeër jare in gewapende roof en bedrogsake spesialiseer, maar slagoffers hiervan kan vergoed word.

“As jy verkrag of mishandel word, kan niemand vir daardie emosionele en fisieke skade vergoed nie. Dít is wat ek aan slagoffers wil gee: gemoedsrus,” sê Labuschagne .

Haar perfeksionisme en sterk persoonlikheid maak haar vasberade om geregtigheid te laat seëvier.

Dit is vir haar van uiterste belang om te weet dat sy in elke saak ’n verskil in iemand se lewe kon maak, en dit gee haar 100% werksbevrediging.

Haar boodskap vir Vrouemaand is dat vroue en kinders baie versigtig moet wees om hulself nie onnodig aan enige vorm van mishandeling bloot te stel nie.

Dit is soms baie moeilik, maar indien ’n persoon daarin vasgevang is, moet hulp so gou as moontlik gekry word.

Leer om jouself te laat geld onder alle omstandighede en lewe na die beste van jou vermoë, sê Charmaine.

“Deur mishandeling waar te neem, leer dogters: as my ma kon oorleef om gevloek, geslaan en misbruik te word, kan ek seker ook. Die seuns leer: as my pa daarmee kon wegkom en my ma nog redelik normaal lyk, kan ek dit ook doen, en dan soek hy vir hom so ’n onderdanige en getroue vrou,” sê sy.

Labuschagne meen dit is belangrik dat vroue hulself bemagtig en weet dat hulle ’n verskil in iemand se lewe kan maak; vroue wat net van dag tot dag leef, hul werk doen en wag vir ’n salaris, sal nie iets sinvol vir iemand kan beteken nie – en sal selfwaarde verloor.

In 1999 het senior aanklaer Rion Lombard haar verplig om ’n internasionale kursus oor seksuele oortredings, wat deur Amerikaners aangebied is, by te woon.

Sy en medekollegas is oor die mees grusame seksuele misdaadsake, wat weens swak vervolging onopgelos was, ingelig. Daar en dan het sy besluit om in seksuele misdrywe te spesialiseer.

Met haar terugkeer by die werk het sy aan Lombard gesê dat sy ’n hof vir seksuele misdrywe in Welkom wou begin. In daardie stadium was daar slegs drie erkende howe vir seksuele misdrywe in die land.

Nadat die seniors haar erns met die saak besef het, het Charmaine dié hof met landdros Susan Meintjies begin. Later was Elna Ferreira en Raymond Macbetty ook deel van die span.

Labuschagne het in daardie tyd met bewusmakingsveldtogte oor seksuele misdrywe begin. Sy het die publiek by onder meer by informele nedersettings en skole besoek, asook maatskaplike werkers en dokters, en belangrike inligting deurgegee.

Intussen het sy haar kennis hieroor verbreed deur verskeie kursusse rakende seksuele misdrywe te voltooi. Sy woon steeds elke moontlike opleidingsessie by.

Haar man, Thys, wat haar ondersteun en haar passie deel om ’n verskil te maak, moes bontstaan en kinders help grootmaak terwyl sy lang rukke van die huis weg was.

Van 2005 tot 2007 is Labuschagne in ’n taakspan ingesluit wat die nuwe wet op seksuele oortredings saamgestel het. Gedurende Desember 2007 was sy in die opleidingspan van die eenheid vir seksuele misdrywe en gemeenskapsake (Soca)wat opleiding oor die nuwe sekswet aan 3 000 aanklaers oor die land heen gegee het.

Hier was Labuschagne die enigste hofaanklaer; die res was almal direkteure en advokate. Daarby was sy die eerste staatsaanklaer wat ’n mensehandelsaak suksesvol kon vervolg, en sy is steeds deel van die taakspan wat aan mensehandelsake werk.

Haar persoonlike skuldigbevinding­syfer vir die laaste 18 jaar, vir sake in die hof afgehandel, is steeds 100%.

Labuschagne en Thys het drie volwasse kinders. Wanneer sy wel tyd het vir ontspan, kuier sy graag met haar gesin en vriende of lees ’n boek en luister na haar gunstelingmusiek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.