Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Versameling span die kroon

“Dit is soos ’n verslawing. Ek het op die jong ouderdom van 16 vetplantjies begin kweek en dit het my belang­stellig geprikkel. Vyftig jaar later fassineer dié plantspesies my steeds,” sê Hennie Engelbrecht (66) van Flamingo Park in Welkom.

Engelbrecht spog met ’n reuse-versameling plante van bykans 1 100 vetplant- en kaktusspesies.

Hy besit ook twee plante van die reuse- en gesogte Cyphostemma juttae, beter bekend as woestyndruiwe, wat ongeveer 30 jaar oud is en waarvoor hy al ’n aanbod uit Pretoria ontvang het.

Engelbrecht het ’n kweekhuis tuis waar hy plantjies kweek wat hy graag uitruil of op vlooimarkte verkoop.

Dié gebore Randfonteiner en sy goeie vriend, Ivan Smit, het van jongs af albei ’n passie vir vetplante ontwikkel en gereeld steggies uitgeruil.

“Ons het begin met die algemene vetplante wat vinnig groei, maar gou is ons belangstelling geprikkel toe ons besef daar is duisende verskillende soorte vetplante en kaktusspesies.

“Die gogga het gebyt en ek wou graag so veel as moontlik van die duisende soorte vetplante wat te kry is, versamel.”

Engelbrecht sê die verskil tussen ’n vetplant en ’n kaktus is dat kaktusse dorings het en vetplante nie.

Sy gunstelinge is die Stapelia Olivacea, beter bekend as die aasblom, wat deur vlieë en brommers bestuif word, asook plante van die genus Lithops, bekend as bokspoortjies, sê hy.

Sakkie Snyman, ’n oud-Goudvelder wat in Klerksdorp woon, is Engelbrecht se mentor.

“Sakkie se kennis oor die plante is verstommend en so insiggewend – ek het ongelooflik baie by hom geleer.”

Engelbrecht is voortdurend op soek na nuwe en meer eksklusiewe vetplante en so ontmoet hy ook baie ander vetplantliefhebbers. Hulle deel dan graag hul kennis en staan mekaar met raad en daad by oor die kweek van die plante.

Hy behoort aan verskeie vetplantgroepe op die sosiale media waardeur lede graag plante ruil en nuwe idees gee oor die kweek van die plante, asook nuwe tendense.

In sy goed georganiseerde kweekhuis het hy drie stelle van die oorspronklike plante, wat hy sy kweekplante noem.

Buiten dat hy van die oorspronklike plante steggies maak, kweek hy ook plantjies van sade af.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.