Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vrae oor nuwe begraafplaas
Matjhabeng

Die Matjhabeng-munisipaliteit sê hy het nie genoeg werkers om sy bestaande begraafplase in stand te hou nie, maar hy het ’n tender van R36,5 miljoen vir ’n nuwe begraafplaas by Ventersburg toegeken.

Naas Allanridge is Ventersburg die kleinste dorp in die Goudveld.

Die munisipaliteit het in ’n brief reageer op vrae wat Maxi Badenhorst, die DA se hoofsweep in die raad, aan hom gerig het.

Die begraafplaas sou aanvanklik R24 miljoen gekos het, wat Badenhorst meen reeds buitensporig was. Op die vraag waarom die koste soveel hoër as die aanvanklike skatting is, sê Lawrence Springkaan van die munisipale bestuurder se kantoor dat die koste ’n vooruitskatting was, maar dat die tenderaar, Oarabile Planthire and Civils, heelwat meer gevra het.

Springkaan het ’n tabel verskaf met die verskille in die geskatte koste teenoor dit wat Oarabile Planthire and Civils vra om die werk te doen.

Die oprigting van ’n watertenk met ’n hoë staander om genoeg waterdruk te verseker, sou aanvanklik R40 000 kos. Die maatskappy vra egter R239 266 vir die watertenk met sy staander – bykans R200 000 meer.

Die parkeerterrein, wat geplavei word, sou na raming R232 000 kos. Oarabile het getender om dit vir R2 miljoen te doen. Die munisipaliteit se vooruitskatting vir ’n rioleringstelsel vir die ablusieblokke was R135 000. Oarabile sal die werk vir R720 000 doen.

Die koste van ’n waterpypleiding is op R90 000 geraam, maar Oarabile vra R605 000 daarvoor.

Op die vraag waar die tender geadverteer was, het Springkaan ’n afskrif van ’n advertensie in City Press gestuur. Badenhorst sê die munisipaliteit kon die geld beter aangewend het en dat die party sal vra dat ’n ondersoek gedoen word.

Sy sê daar is genoeg werkers om bestaande begraafplase in stand te hou, maar dit word nie gedoen nie.

Die bou van die begraafplaas word uit die nasionale tesourie se gelykheidsfonds vir infrastruktuur betaal.

Badenhorst sê die geld kon eerder vir die vervalle riool- en waterinfrastruktuur gebruik word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.