Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Vrees heers

Die besetters van ’n boer van Virginia se plaas word nou deur ’n dringende tussentydse hofbevel van die Vrystaatse hooggeregshof verbied om enige van die boer se drie plase in die distrik te betree.

Die besetters sê Nkosinjani Speelman, uitvoerende burgemeester van die Matjhabeng-munisipaliteit, het hulle toestemming gegee.

Honderde grondbesetters het Maandag (06/08) op Andries Pienaar se plaas Christiana probeer erwe uitmeet om daar te gaan woon.

Luidens die bevele wat waarnemende regter Seef Hefer Dinsdagmiddag (07/08) gemaak het, word hulle verbied om enige van Pienaar se plase – Christiana, Dora en Mooiuitzig – sonder sy skriftelike toestemming te betree en te beset.

Hulle word ook verbied om te probeer om op enige van die plase strukture te probeer oprig of op te rig.

Pienaar sê in ’n hofverklaring dat daar teen Dinsdagoggend geen besetters op sy plaas was nie.

“Die situasie kan egter enige oomblik verander. My ander eiendomme is ook in gevaar en ek het beskerming nodig.

“Ek vrees nie net dat my eiendom beskadig sal word nie, maar ook vir my eie veiligheid en dié van my plaaswerkers.”

Hy sê die gerugte dat ’n plaaslike politikus aan die inwoners van die Meloding-woonbuurt in Virginia gesê het die eiendom is vir ontwikkeling by hom gekoop, is onwaar.

Dié politikus het glo gesê die mense kan die eiendom beset en erwe uitmeet.

Van die inwoners het Dinsdag buite die Virginia-landdroshof, waar 11 van hul makkers verskyn het, gesê hulle gaan aanhou om die grond, wat langs hul township is, te beset omdat Pienaar “ ’n ooreenkoms” met die munisipaliteit het.

Die 11 het in die hof verskyn nadat hulle die vorige aand in hegtenis geneem is toe die polisie en honderde grondbesetters slaags geraak het.

Volgens kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, is twee van die mense op borgtog van R500 elk vrygelaat. Die ander nege is egter borgtog geweier omdat hulle nie “hul nasionaliteit kon bewys nie.”

Die verhoor is tot Dinsdag (14/08) vir aansoek om borgtog uitgestel.

Sowat 500 mense het Maandagoggend die plaas beset en vir hulle erwe begin afmerk.

Speelman het glo gesê dat hulle dit kan doen.Volgens die inwoners is ’n ooreenkoms met Pienaar in 2013 aangegaan.

Hulle meen hy ontduik hulle sedertdien, en Seun Diphoko, nog ’n raadslid, het Sondag (05/08) gesê hulle kan vir hulle erwe uitlê.

Sello Motsei, streekskoördineerder en raadslid van die ANC, het buite die hof gesê hulle het nie self besluit om erwe uit te meet nie, maar dat Speelman en Diphoko gesê het hulle mag.

Hulle soek die grond om huise te bou omdat daar te veel mense in die township is.

“Ons wil nie baklei nie, ons is vreedsaam en gedissiplineerd. Ons wil saam met die polisie met hom oor die grond praat,” het Motsei gesê.

“Hier is meer as 300 mense wat grond vir behuising nodig het. Ons gaan daar erwe uitlê en as daar nie genoeg is nie, gaan ons geduldig wag vir nog grond om beskikbaar te word.”

Volgens die inwoners het die grondbesetting “niks met Julius Malema en die EFF of die ANC te doen nie”.

Dit gaan net oor hul behoefte vir grond vir behuising.

  • Adv. Jannie Lubbe SC het in opdrag van Pieter Schuurman van Hill, McHardy en Herbst-prokureurs vir Pienaar opgetree.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.