Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wanbestuur deur komitee ondersoek
Matjhabeng

Oupa Khoabane, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het ’n artikel 106-ondersoek gelas na die beweerde wanbestuur van die Matjhabeng-munisipaliteit.

Mokete Duma, hoof van dié departement, het bevestig Khoabane het ’n komitee ingevolge artikel 106 van die Wet op Munisipale Stelsels aangestel.

Dié provinsiale komitee bevat vyf verteenwoordigers van Cogta en drie van die tesourie, sê Duma.

“Artikel 106 stel dit dat indien daar enige wanbestuur is, as enigiets veroorsaak dat die bestuur nie behoorlik funksioneer nie, kan die LUR ’n span stuur om ondersoek na die bewerings in te stel.”

Die komitee sal ná die ondersoek ’n verslag met bevindinge en voorstelle saamstel en aan Khoabane oorhandig.

Dit volg op ’n staking deur munisipale werkers van sowat drie weke oor onder meer agterstallige oortydgeld en derdeparty-voordele (soos siekefondsbydraes en pensioengeld) wat vir maande nie oorbetaal is nie.

“Die rede waarom ons artikel 106 in werking gestel het, is om vir die werkers te sê hulle moet terugkeer werk toe, terwyl die departement tans al hul bekommernisse ondersoek,” sê Duma.

Samwu het onlangs saam met onder meer die SAKP ’n vreedsame optog in Welkom gehou en ’n memorandum aan Cogta oorhandig.

Dit was oor kwessies soos oorbetalings aan derde partye, die uitkontraktering van dienste en onwettige werwing.

André Styger, DA-koukusleier en raadslid in Matjhabeng, sê die staking is beëindig.

Nkosinjani Speelman, die burgemeester, het vroeër aan Volksblad, moederkoerant van Vista, bevestig dat die munisipaliteit se uitstaande water- en kragrekening saam sowat R4 miljard beloop.

Eskom het met die munisipaliteit afgespreek om ’n bepaalde bedrag teen Maandag (03/12) te betaal, anders word kragonderbrekings vanaf Maandag (10/12) ingestel.

David Ross, DA-LP, sê volgens Eskom is die munisipaliteit en dié kragvoorsiener in gesprek en het die munisipaliteit onderneem om dié betaling te doen.

Styger sê egter die munisipaliteit sal na verwagting eers volgende week, nadat hy sy nasionale gelykberegtigingstoelaag ontvang het, die betaling doen.

Saam met Eskom sal die derdeparty-voordele betaal word. Volgens Styger is dié voordele met R14 miljoen agterstallig.

Speelman sê die derdeparty-voordele sal teen Maandag (10/12) betaal wees.

Speelman het later op die vraag of die munisipaliteit die ooreenkoms met Eskom vandeesweek sal kan nakom, gesê: “Ek kan nie sê nie, ek is nie nou op kantoor nie.”

Speelman ontken dat hy van die ondersoek wat die LUR begin het, bewus is.

“Ek weet niks daarvan nie, vra vir mnr. Khoabane.”

Volgens Styger het Speelman op ’n vergadering die kennisgewing van die ondersoek voorgelees.

Styger is nie seker wanneer die munisipaliteit dit ontvang het nie, maar sê dit is gedateer 28 November.

Ross sê die DA verwelkom die ondersoek.

Hy meen “dis ’n stap in die regte rigting om te probeer om die situasie in Matjhabeng polities te kalmeer”.

Ross meen die optrede moet selfs verder strek.

“Ons stel ’n ingryping ingevolge artikel 216 van die Grondwet voor waar die tesourie die bestuur van die finansies van die munisipaliteit sal oorneem.

“Dit is om te verseker dat die dienste van betalende inwoners en alle inwoners se krag en water verseker kan word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.