Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Wegbreeknaweek word nagmerrie

“Ek het net gehoor ‘hy byt hom, hy byt hom’ en toe ek omdraai, sien ek sy arm in die leeu se bek,” sê Thinus Sadler van Virginia.

“Hy was geskok – hy het net daar gestaan en kon niks doen nie. Ek het hom weggeruk.”

Sadler, ’n werknemer by die Tikwe River Lodge, ’n bekende vakansie-oord in die Goudveld, het Saterdag ’n groep mense op ’n begeleide toer geneem toe ’n leeuwyfie Pieter Nortjé (55) gebyt het. Nortjé en sy vrou, Ilze, is Dinsdag (09/04) tien jaar getroud, en ’n familielid, Molly Small, het aan die Nortjé-egpaar ’n naweek by die lodge as geskenk gegee.

Sadler sê die lodge bied al die afgelope ses jaar begeleide toere deur die wildplaas, en dit is die eerste keer wat so iets gebeur.

“Daar is orals waarskuwingsborde, maar Nortjé het sy hand deur die geëlektrifiseerde heiningdrade gesteek om aan die leeu te raak,” sê Sadler.

Die leeuwyfie het volgens Sadler naby die heining gelê.

Daar is twee leeukampe en besoekers beweeg met ’n pad tussen die twee kampe deur om die leeus van naderby te sien.

Nortjé, ’n ambagsman by SA Truck Bodies in Bloemfontein, is in ’n geskokte toestand in Virginia se Katleho-hospitaal opgeneem en Sondag (07/04) na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas.

Sy vrou het saam met Small by die hospitaal gewag totdat ’n ambulans Nortjé kom haal het en na Bloemfontein geneem het.

Small sê die ondersteuning en diens wat hulle by die Pelonomi-hospitaal kry, is ongelooflik.

“Die dokters is wonderlik en het vir ons gewag,” sê Small. Ons kry ook baie ondersteuning van Tikwe.”

Nortjé se toestand word as ernstig beskou, en sy liggaam is in septiese skok. Sy hartritme was ook Sondag onreëlmatig.

Roelof Stoltz, eienaar van die lodge, het Sondag sy vakansie kortgeknip weens die voorval en is op pad terug na Virginia.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vista Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.