Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
4 leerlinge van BHS presteer

Die Hoërskool Burgersdorp (BHS), oftewel Blikkies, spog vanjaar met vier leerlinge wie se kreatiewe werk gepubliseer is in die 2020 Poort-bundel, ’n publikasie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Dillan Luiters (gr. 12), Marnel van Heerden (gr. 12) en Mieke Ferreira (gr. 11) se prosawerke is op meriete in die bundel opgeneem. Buiten dat Luiters die eerste BHS-seun is wie se werk ingestuur is, is nog ’n eerste dat albei sy skryfstukke vir publikasie opgeneem is. Lijani Griessel (gr. 12) se inskrywing vir die voorbladkompetisie is een van vier kunswerke wat vanjaar gepubliseer is.

“Ek is so ongelooflik trots op Burgersdorp se skrywers,” sê hul begeesterde Afrikaans-onderwyser, Henriëtte Koen. Sy doen baie moeite met hulle. “Hulle werk baie hard en sit smiddae by my met ’n tesourus, ’n atlas, en botaniese boeke. Dis ’n spanpoging, maar ek gee net leiding en is baie krities. So, as hul werk inkom, weet ek dit het werklik meriete gehad.

“Ek sê altyd vir hulle om vir die Poort in te skryf is soos om aan die SA’s van skryf deel te neem. Dis skole se beste bestes.”

Werke van leerlinge aan die Hoërskool Burgersdorp is in die 2020 Poort-bundel gepubliseer. Van links is Dillan Luiters (gr. 12), Marnel van Heerden (gr. 12), Lijani Griessel (gr. 12) en Mieke Ferreira (gr. 11). Foto: Verskaf

Sedert Koen tien jaar gelede die eerste leerlinge ingeskryf het, druk BHS sy stempel af as een van die toptien-presteerders in die kompetisie.

“Ons is ’n ou klein skooltjie. Toe ons die eerste keer in 2010 inskryf, vra hulle my wáár is Burgersdorp!”

Sy gebruik opstelle wat hulle in die klas, of eksamen, skryf om potensiaal te identifiseer. “Ek moet dit in ’n kind se skryfwerk kan sien. Daar moet ’n verrassing, ’n X-faktor, ’n kinkel in die kabel, iets wow daarin wees.

“Dan moet ek die kind lei en die werk ontgin dat hy of sy dit kan omskryf tot iets wat beter as ’n skoolopstel is.”

Sy vrá hulle. Die kind moet wíl, hy of sy moet hard werk en kan saamwerk, want Koen stuur aanmekaar iets terug wat nie reg klink nie.

“Jy moet jou dun velletjie by die huis los, en kom,” sê sy wanneer ’n kind ja sê. Hierna volg intense aangesig-tot-aangesig-sessies. “Wat wil jy eintlik sê? Of, wat ruik jy, hoe ruik dit?” Dit móét die kind se werk wees, daarom bevraagteken sy dit. Op hierdie manier lei sy hulle om beter te skryf, die werk te skaaf en te skuur totdat dit voel “nou is dit reg”.

“Die kinders werk hard om hul stories op standaard te kry. Daar is tegnieke en jy het iemand nodig om jou potensiaal raak te sien, jou af te rig, te druk, kritiek te gee en moed in te praat. Jy moet bereid wees om dit te vat.

“Dis vir my ongelooflik lekker,” sê Koen oor die skryfklub wat sy ’n paar jaar gelede by die skool begin het. "Die klublede word blootgestel aan verskillende genres, digsoorte, en so meer en kan in Afrikaans of Engels skryf. Daar moet ’n uitdaging wees, daarom hou ek daarvan om die grense die heeltyd te skuif en hulle ’n bietjie te druk om iets in hulself te ontdek.”

Leerlinge wat in die Poort gepubliseer word, kry erekleure en die Hoërskool Burgersdorp lys ook skryfkunsprestasies in hul bemarkingsmateriaal as iets wat leerlinge kan bereik.

Die Akademie bied reeds sedert 1970 die kompetisie jaarliks op nasionale vlak aan. Hul doel is om die skeppende gebruik van Afrikaans onder senior hoërskoolleerlinge aan te moedig. Die kompetisie skep ’n forum om leerlinge wat skryfpotensiaal het te identifiseer.

Gekeurde werk wat jaarliks in die Poort-publikasie verskyn, gee aan hulle blootstelling.

Meer oor:  Hoërskool Burgersdorp  |  Leerlinge  |  Kontrei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.