Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Biblioteek bly vol stories

’n Jare lange korrespondent van Volksblad, Sonja van Wyk, het tydens die inperking haar 30ste diensjaar as bibliotekaris van die Excelsior-biblioteek gevier. Sy beskryf haar drie dekades in dié pos.

Dalk is dit die laaste geleentheid wat ek as oud-korrespondent van Volksblad kry om my storie met die lesers te deel.

Vir 30 jaar het ek positiewe stories en berigte oor ons dorp geplaas. Negatiewe beriggewing verkoop koerante, ek weet, maar ai, dit het gewoonlik swaar op my hart gelê om sulke stories te vertel. In elk geval, hoeveel skades en skandes kan ’n klein dorpie soos Excelsior dan nou oplewer?

Een van die knipsels uit die plakboeke in die Excelsior-biblioteek.

Op 1 Julie 1990 het ek my nege maande oue baba, Odette, in die sorg van my jare lange huishulp, Olga, gelaat en ’n pos aanvaar as bibliotekaris van die Excelsior-biblioteek. Die oudburgemeester Sout van der Walt het tydens my onderhoud gesê ek kan haar (Odette) saambring werk toe, want in daardie stadium het ek maar twee ure soggens en slegs een uur smiddae oop ure gehad by die biblioteek, maar ek wou nie. Sy was beter af by ons huis wat loopafstand van my werk af was.

Ons twee ouer kinders, Pieter, toe 16 en Adéle, nege, het op die dorp skoolgegaan en het tydens skoolvakansies soms kom hand bysit met die vakansieprogramme.

Een van my pligte was beriggewing aan Volksblad. Ek het ’n rol film ontvang en het gereeld film met plek vir so vier of vyf foto’s in ’n donkerkamer in Bloemfontein laat laai.

Dit was uiters belangrik om seker te maak as ek foto’s neem, om neer te skryf wie staan waar en die foto’s te nommer, want chaos kon ontstaan as die spoel by Volksblad aankom en daar is nie behoorlik inligting aangeteken nie. Hoeveel makliker is die digitale wêreld vandag!

Sonja van Wyk, ExcelsiorFoto:

Ek het ’n manjifieke 30ste verjaardag beplan vir 1 Julie 2020. Verseker sou al my kollegas van Biblioteekdienste in Bloemfontein hier moes wees. Graag sou ek ook vir Fanie Viljoen wat die voorblad van ons resepteboek geskilder het, hier wou hê, asook Jacomien Schimper, oud-direkteur, Elmarie Kruger, tans direkteur en verskeie ander kollegas, vriende, en meer sou ek feitlik vriendelik “verplig” het om teenwoordig te wees. En ja, natuurlik Reinette Rautenbach (’n boorling van Excelsior) en nou bibliotekaris in Hoopstad.

30 jaar. ’n Leeftyd. Stories kan ek baie vertel. Daar is soveel wat ek beleef het. As jong, onervare bibliotekaris het ek die oorgang in 1994 na ’n “oop” biblioteek beleef.

Vroeër jare het ek gereeld storie-ure gedoen vir die koshuiskinders wat daardie jare net Woensdae dorp toe kon kom.

Vakansies en tydens biblioteekweek het die biblioteek ’n volgepakte program vir kinders en volwassenes aangebied.

Boeke is nie my enigste passie nie. Ek het lank gespook om ’n heining om die biblioteek opgerig te kry sodat ons kon tuin maak en die bokke en beeste kon uithou. Groot was my verbasing in 2013 nadat ek ses weke by die huis was vir ’n knievervanging om te hoor dat ’n heining vir die biblioteek opgerig is. Wat ’n vreugde!

Sonja van Wyk, ExcelsiorFoto:

My Vriende-van-die-Biblioteekkomitee, met die dinamiese Rina Els as voorsitter, het my hande omhoog gehou en my in alle opsigte bygestaan met die reël van geleenthede, aankope van nuwe boeke, aktiwiteite vir bejaardes en kinders. Te veel om op te noem. Die biblioteek het tot sy eie resepteboek uitgegee wat vandag nog in talle huishoudings gebruik word!

Ek was ook bevoorreg om vyf Claerhoutfeeste in Excelsior te help reël wat my lewe geweldig verryk het. Mettertyd het die klem verskuif in biblioteke en is ons vandag, na my mening, eintlik internet-biblioteke.

Hoewel ons steeds ons gereelde boeklesers het, is ons meeste besoekers daar om die rekenaars te gebruik. Hetsy om inligting te soek of CV’s te tik.

Ons probeer daagliks om ons besoekers steeds aan die wonderwêreld van ’n boek bekend te stel – iets wat vir my as jong leser ure se genot verskaf het op die platteland.

Sonja van Wyk,

Vandag is dit vir my hartseer dat ons jong mense nie meer gereeld lees nie, ten spyte van ons pogings met storie-ure en ander aktiwiteite om hul belangstelling te prikkel.

Met net minder as twee jaar oor voel ek jammer dat die tegnologie so genadeloos teenoor boeke en koerante “baas speel”. Wat is lekkerder as die reuk van ink as jy ’n nuwe boek oopmaak of die geritsel van Volksblad as jy tydsaam daardeur lees? In die biblioteek is vier plakboeke met al die jare se berigte wat oor ons dorpie verskyn het. Dit is hartseer en tog so opwindend dat tye verander.

Ek het my 30ste “verjaardag-tee” in die biblioteek weens Covid-19 gemis, maar sien uit om vir nog twee jaar ’n wesenlike verskil vir almal te maak wat die biblioteek kom besoek, hetsy om ’n boek uit te neem, ’n fotostaat te maak, die internet te gebruik of ’n e-boek af te laai. Jy bly ewe welkom in Excelsior se biblioteek.

Dankie, Volksblad, met wie ek hierdie reis kon meemaak. Julle bly die beste!

Meer oor:  Biblioteek  |  Kontrei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.