Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Goue oomblikke op doek vasgelê

Die naam Lynette Schuld is si­noniem met die kunste in Bethlehem, en talle suksesvolle kunstenaars van die dorp en omgewing is deur haar opgelei.

Sy bied al 35 jaar lank kunsklasse aan, en so tussendeur die klasgee skilder sy die afgelope 20 jaar heeltyds.

“Van kleintyd af het die kwassies al begin beweeg en op skool het ek vir my maats hul tekeninge gedoen,” sê sy.

Lynette (56) reken haar liefde vir kuns is van jongs af gekweek toe sy as kind die een ná die ander inkleurboek voltooi het.

Lynette Schuld met die kunsboek wat sy geskryf het.

“As kind was ek bevoorreg om baie tyd vir speel en skep te hê. Daar was geen televisie of rekenaars wat my tyd kon steel nie.”

Haar eerste verf was tee en koffie wat in koppies oorgebly het, en wanneer haar ma beet gekook het, het sy graag met die pienk water in die pot geverf.

Haar ma, Kleintjie Reid, is ’n baie kreatiewe mens.

“My ma het die kunsgrondslag by my gelê. As kind het sy my gemotiveer om byvoorbeeld voor ’n blommetjie te gaan sit en mooi te kyk hoe dit regtig lyk voordat ek dit teken. Jy kan enigiets teken as jy net presies weet hoe dit lyk.

“Só het sy ’n hele nuwe wêreld vir my laat oopgaan.”

Sy het ook baie kunsboeke verslind en nuwe tegnieke uitgetoets.

Lynette is gebore en getoë in Ficksburg, waar sy ook haar skoolloopbaan voltooi het. Ná skool het sy onderwys, asook biblioteek- en mediakunde aan die destydse Bloemfonteinse Onderwyskollege studeer.

Sy het aan verskeie skole onderrig gegee en in kuns en musiek gespesialiseer, en later jare was sy ook by ’n tegniese kollege betrokke.

Ná 14 jaar in Johannesburg, waar sy private kuns-, beeldhou- en pottebakkeryklasse aangebied het, het sy en haar man, Otto, na Bethlehem verhuis. Lynette en Otto, ook ’n boorling van Ficksburg, was van gr. 1 tot gr. 12 saam op skool en is sedertdien ’n gedugte span.

’n Skildery deur Lynette Schuld wat in die Pierneef-museum in Ficksburg hang. Dit is ook die gebou waar sy tot matriek in die skool was.

Lynette bied drie keer per week kunsklasse in Bethlehem aan, en sy bedryf haar eie kunsgalery in die dorp. Dié begaafde kunstenaar is nie net ’n kunsonderwyser nie, maar het ook al ’n kunsboek geskryf en was die illustreerder van ’n geestelike kinderboek.

“Daar is soveel mooi om ons. Ek skilder graag mense, diere, stillewes, natuurtonele en geboue. Daardie kragtige en goue oomblikke wat my oog tref, wil ek op doek vaslê en vir ewig hou. Daar is soveel mooi in God se skepping. Dit stop net nooit en ek wil net aanhou verf.”

Soms geniet sy dit om sommer net met die verf te speel, sonder enige beplanning, en te sien wat te voorskyn kom.

Lynette skilder op bykans enige oppervlak – van skilderdoek, papier en lap tot handsakke – en het selfs al dekor-mure vir biblioteke, skole en private wonings beskilder. Sy werk in alle mediums en soms ook in gemengde media. Dit sluit in: olie-, water- en akrielverf, sagte pastelle, houtskool, grafiet en ink. Vir haar het elke medium sy eie bekoring.

Haar gunsteling-werk in dié stadium is ’n skildery van perde genaamd Unchained. Dit is in olieverf op Belgiese linnedoek van 2,5 m x 3,5 m geskilder.

“Dit was nogal ’n anderste gevoel om op Belgiese linne te skilder, want die verf reageer effens anders as op katoendoek.”

Soggens is haar tyd vir skilder – sy skilder net nie op Vrydae en Sondae nie. Dit is vir haar bevredigend om met musiek te skilder en sy luister graag na swaar klassieke instrumentale musiek, kore en operas van verskeie komponiste.

Haar skilderye hang in haar eie galery, Fouriesburg se Doherty-galery en in die Pierneef-museum in Ficksburg. Sommige van haar skilderye het ’n tuiste in Duitsland, Kanada en Londen gevind.

Lynette bied tans kunsklasse op YouTube aan, en sy beplan ook ’n aanlyn werksessie vir die nabye toekoms. Nuuskieriges kan lynetteschuld.com besoek. Benewens kunsverwante aktiwiteite werk sy graag in die tuin.

  • Die berig het eers in VrystaatKroon verskyn.
Meer oor:  Bethlehem  |  Kontrei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.