Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Kunskoeke word toe loopbaan

Jacqueline Walker (48) van Bethulie se loopbaan as dekoratiewe koekkunstenaar het onbeplan begin en sluit later selfs die ontwikkeling en aanbieding in van ’n opleidingskursus.

Toe die Walkers in Januarie 2014 van Kaapstad af na Bethulie verhuis het, “het ek geen plan of idee gehad oor hoe ek hier ’n inkomste sou genereer nie”, sê sy. Sy het haar aanvanklik besig gehou met binneversiering en kunsvlytaktiwiteite.

“Ek het die Here gevra vir ’n manier waarop ek hier ’n inkomste kan genereer sonder dat dit enigiemand anders benadeel,” vertel sy. Nooit het sy egter kon droom dat haar afskop ongeveer vier jaar gelede om “bierboks­koek en melktert” te bak en voor Lewis Stores te verkoop, eindelik sou ontwikkel tot haar huidige besigheid nie. Alles het begin toe Amanda Brown haar nader met ’n plan om op dié manier geld te verdien. Later het haar ma, Alida Pope, haar begin help met die bestellings en verkope.

’n Paar voorbeelde van die pragkoeke en kolwyntjies wat Jacqueline Walker van Bethulie bak.

In dié stadium is sy genader om by die destydse melkery te kom werk. Die eienaar het met haar ooreengekom dat sy haar gebak, wat intussen uitgebrei het om versierde kolwyntjies in te sluit, daar verkoop. “Terwyl ek nog by die melkery gewerk het, het my kleinseun, Eden, verjaar. Paula Willemse was by sy partytjie en het baie gehou van die verjaardagkoek wat ek vir hom gebak het. Sy het my aangemoedig om te begin verjaardagkoeke bak. Paula het die eerste fondantkoek by my bestel. Ek was nie seker hoe nie, maar sy het my met waardevolle inligting gehelp.”

“Niemand het my regtig oor die bakgedeelte geleer nie.” Sy het hoofsaaklik op Google resepte gesoek en video’s gekyk oor hoe om sekere koeke te bak.

Jacqueline Walker van Bethulie.

Wyle Alana Klopper het haar begin aanmoedig om koeke te versier terwyl sy nog by die melkery gewerk het. “Alana was my mentor en my grootste inspirasie. Sy het my deurentyd aangemoedig wanneer ek in myself getwyfel het.” Haar eerste troukoek was met ’n tradisionele tema. “Dit was ’n maklike koek, maar ek was senuagtig. Alana het gesê ek kan dit doen, ek moet net probeer. Sy het my ook met ontwerpe gehelp, vir my baie voorbeelde gegee en my na plekke verwys waar ek inligting kon kry. Haar werk het van myne verskil. Ek sou my eie ontwerp doen deur sekere elemente uit haar voorbeelde te neem en dit te kombineer met iets wat ek op YouTube sien.”

Dis net meer as twee jaar wat Walker nou dekoratiewe koeke maak. Sy het begin deur met ’n kwas die gekleurde jel op fondant te verf. Sy het ook voorbeelde van tekenprentkarakters op YouTube gesoek, die buitelyne geteken, die prentjie met botterversiering op waspapier geverf, dit in die vrieskas gesit en daarna die bevore prentjie op die botterversiersing oorgeplaas.

Die kennis, vaardigheid en ondervinding uit kuns/skilder, wat een van haar matriekvakke was, kom goed te pas vir haar koekkuns.

Mettertyd het sy ontdek dat ’n mens pragtige blomme uit versiersuiker kan maak en van ander tipes versiering waaronder Switserse en Italiaanse me­ringue en Koreaanse meringuebotterroom. “Almal het verskillende teksture en die metode en bestanddele verskil.”

’n Paar voorbeelde van die pragkoeke en kolwyntjies wat Jacqueline Walker van Bethulie bak. Foto: Verskaf

Sy aanvaar enige versoek waarmee haar klante na haar kom. “Daar was iemand wat ’n hond vir haar seuntjie wou hê; dus moes ek die koek vorm soos ’n hond.”

“My voorbereiding is belangrik, daarom beplan ek om al my bestellings te bak terwyl my oond warm is. So bespaar ek op krag.”

Een van die koeke wat sy in 2019 versier het, was vir ’n 100ste verjaardagviering. Dié koek het deure oopgemaak. Hierna het die Rooms-Katolieke Kerk in Aliwal-Noord haar genader om ’n kursus te kom aanbied by Mount Carmel buite die dorp. “Ek het die opleiding baie geniet en sal graag wil opleiding gee sodat die leerlinge ook hul eie sake kan begin!” sê sy. “Ek het my vorige werk as bestuurder by ’n rekeninge-afdeling geniet, maar om koeke te bak en versier, vul my kreatiewe tenk. Ek is gek na wat ek nou doen.”

Meer oor:  Bethulie  |  Kunstenaar  |  Loopbaan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.