Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Kyk nuut na Jacobsdal se geskiedenis

Die Jacobsdal Historiese Vereniging glo geskiedenis kan die landelike ekonomie ’n hupstoot gee indien organisasies en inwoners toeriste na historiese geboue, monumente en begraafplase in hul dorpe lok.

Dit is ook die oogmerk van dié vereniging se nuutverkose komitee wat op 24 Oktober vanjaar hul eerste toer saam met Steve Lunderstedt, skrywer en militêre historikus van Kimberley, deur die dorp onderneem het. Hulle het die skermutselings in die Anglo-Boereoorlog (ABO) wat op 14 Februarie en 25 Oktober 1900 hier plaasgevind het, bespreek en plekke van historiese belang bekyk.

Nalene Nel, voorsitter van die vereniging, sê die nuwe komitee is geesdriftig om erfenis en gedenkwaardighede vir toekomstige welvaart in te span.

Die plaasopstal van Christoffel Jacobs na wie Jacobsdal genoem is. Foto: Nalene Nel

“Ons moet weet waar ons vandaan kom en wat ons geskiedenis is, en dié geskiedenis bewaar en lewend hou. Dit is skreiend om deur ander Vrystaatse dorpe te ry en te sien hoe historiese geboue tot niet gaan omdat niemand meer die geskiedenis daarvan ken of waardeer nie.”

Nie net het Jacobsdal self ’n ryk ABO-geskiedenis nie, maar is die dorp nie ver nie van Magersfontein, Modderrivier, Kimberley en Perdeberg wat prominente plekke in die oorlog was.

“Jacobsdal, wat in 1859 gestig is, is geleë op die plaas van Christoffel Jacobs, wie se oorspronklike opstal nog staan. Jacobsdal was toe een van die grootste dorpsdistrikte in die Vrystaatse Republiek. Ons is besig om die opstal wat van roustene gebou is, op te knap.”

Die huis bevat antieke meubels en toeriste kan pamflette lees waarop die geskiedenis uiteengesit is.

“Ons sal skenkings van antieke meubels uit die tydperk waardeer om die huis verder te versier.”

Die klipstapel by die Hoër Landbouskool Jacobsdal (Landboudal) waar kommandant Stephanus Lubbe en sy burgers hul name op die klippe aangebring het. Foto: Annelie du Preez

Die vereniging het groot planne om toeriste te lok.

“Ons wil graag ’n ‘spooktoer’ van al die geskiedkundige geboue te voet doen, maar dit sal ook lekker wees om op perde deur die dorp te ry. Ons kan selfs ’n langer perderit van tot 15 km om die dorp onderneem.”

Met Lunderstedt se besoek het die groep belangstellendes deur die NG kerkgebou geloop wat ’n Rooikruis-hospitaal in die ABO was waar Boere en Engelse behandel is. Dit is ook waar genl. Koos de Rey se seun, Adriaan, behandel is nadat hy in 1899 deur skrapnel by die Slag van Tweeriviere gewond is waaraan hy later beswyk het.

Ná die eerste skermutseling tussen die Boere en die Engelse op 14 Februarie 1900 waarin ’n Skandinawiër gesneuwel het, het die Engelse Jacobsdal ingeneem, die eerste Vrystaatse dorp wat hulle ingeneem het.

Genl.maj. Archibald Graham Wavell het die Garfield-hotel oorgeneem en die dak beskadig om hul heliograaf-toerusting te gebruik.

Op 25 Oktober 1900, op die dorpsplein naby die NG kerkgebou, het die Jacobsdal-kommando onder aanvoering van veldkommandant Isak Bosman slapende Engelse soldate aangeval, ’n voorval waarin meer as 20 Cape Highland-soldate dood is. Bosman het ook gesneuwel.

Nel vertel hulle kon vir Lunderstedt vertel hoe die Engelse vir ds. P.J.J. Boshoff verdink het en dat hy hulle nie oor die komende aanval gewaarsku het nie. Hy is oornag saam met sewe Boere in ’n kruithuis opgesluit as straf.

Die blokhuis in Jacobsdal is deur Engelse soldate sonder ’n argiteksplan met beskikbare materiaal gebou. Foto: Nalene Nel

“Dié mans het amper versmoor want hulle kon weens die beknopte ruimte net staan. Die predikant is uit die Vrystaat verban en moes per fiets met sy aardse besittings na die Kaapkolonie gaan. Van daar is hy na Ceylon verban. Hy het ná die oorlog na Jacobsdal teruggekeer.

“Steve het ons weer vertel dat die blokhuis in die dorp baie besonders is omdat geen argitek ’n plan daarvoor geteken het nie. Dit is deur soldate gebou uit die klippe tot hul beskikking.

“Buite die dorp by die Hoër Landbouskool Jacobsdal (Landboudal) is ’n klipstapel waar kommandant Stephanus Lubbe en sy burgers voor die begin van die oorlog hul name op die klippe uitgekrap het voordat hulle ’n treinbrug by Modderrivier sou opblaas. Lubbe se ou huis staan nog, asook ’n ou tuishuis waar boere oor naweke gebly het om Nagmaal-kerkdienste by te woon.

“Ons begraafplaas, waar gesneuwelde Engelse en Boere rus, is pragtig versorg. Dit huisves ook die oudste graf in die omgewing, van ene Rademan wat in 1830 dood is.”

Belangstellendes wat betrokke wil raak of voorstelle en stories wil deel, kan ’n e-pos aan Nel by nalenen@gmail.com stuur.

Meer oor:  Jacobsdal  |  Geskiedenis  |  Kontrei  |  Toeriste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.