Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Meng jou met die varke . . . en jy val in ’n gat

“Dié kalfie se ma sal haar ernstig moet aanspreek om nie met die varke te meng nie,” skerts Tish van Niekerk, ’n boervrou van die plaas Graspan in die Boshof-distrik in die Vrystaat.

Dít kom nadat dié verskalfie verlede week in ’n vlakvarkgat beland het. ’n “Reddingspan” van vyf mense het geswoeg om haar uit te kry.

Van Niekerk sê hulle was nie op die plaas toe die kalf in die gat val nie, maar die werkers het drie en ’n half uur geswoeg om die kalfie van tien dae oud uit die gat te kry.

Die vlakvarkgat waarin die kalf beland het.

Hul plaasbestuurder, Callie Brits, en van die werkers het gaan help nadat hulle ’n tweede keer die beeskamp gefynkam het op soek na die kalf. Hulle het ’n koei dopgehou wat gelyk het of sy soek. Sy was die hele tyd naby die trog wat nie ver van dié spesifieke, steil en tregtervormige gat van sowat 2,5 m diep is nie.

Callie het nader gekruip en die kalfie hoor bulk.

Nadat werkers die gat eers groter gegrawe het, is ’n sleepband vasgemaak aan Jors Dira, een van die werkers. Hy het by die gat ingekruip om ’n trektou aan die kalf se pote te bind. En so is die kalf gered.

Van Niekerk sê dit gaan goed met die kalfie nadat sy aanvanklik gedehidreer was en kalwers word minstens drie keer per week nagegaan. Dís hoe die werkers gesien het die een koei se uier staan stokstyf. Haar kalf het dus ure laas gedrink.”

Erd- en vlakvarkgate is baie algemeen op plase en dis gewoonlik net die baie jong kalfies wat in gate beland. “Aanvanklik grou erdvarke die gate, maar dan maak die vlakvarke dit groter wanneer hulle daarin slaap. Jy sien net grond trek soos hulle vir hulle ’n grondkombers maak.

“Soggens as ek Otto (haar troetelvlakvark) sien, sien ek net ’n rooi laag (grond) oor haar stowwerige lyf.”

Sy sê die gate veroorsaak soms groot probleme. Die wiel van haar man, Pieter, se bakkie het al tydens ’n veldbrand op die plaas in ’n gat beland.

“Hy het vasgesit terwyl die vlamme al hoe nader aan die bakkie gekom het. Hy en sy seuns, Lourens en Gert, moes later, ná verskeie pogings om die bakkie uit die gat te kry, op die bak klim en die vlamme van die voertuig met die brandspuit afweer totdat hul konstruksievoertuig opgedaag het.

“Omdat die gate nie altyd maklik sigbaar is nie, is dit ’n waagstuk om in die veld te ry.” Sy sê drie kalwers val gemiddeld elke jaar in ’n gat – selfs al gooi werkers die gate toe.

Dié boervrou het besluit om die bevryde kalf naamloos te laat omdat net diere wat nie vir die pot bestem is nie, name kry – soos die geval is met Otto en Macarena, ’n melkkoei se kalf wat met ’n gebrek gebore is en ’n “dansende stappie” gehad het. “Macarena het intussen haar pote” gevind en dans nie meer agter haar ma aan nie,” lag die ma van die plaas.

Meer oor:  Vrystaat  |  Boshof  |  Plaas  |  Kontrei  |  Vark
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.