Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Ná jare tel Thys du Plessis weer pastelle op

Dit is 14 uur voordat die nasionale staat van inperking in Suid-Afrika begin toe Thys du Plessis sy selfoon antwoord.

Thys du Plessis oefen nou om weer gesigte met pastelle te teken sodat hy sy 16 kleinkinders kan teken. Foto: Verskaf

Hy groet en haal sommer binne die eerste paar sekondes van die gesprek The Tremeloe­s se “Even the Good Times Are Bad” aan. Dié oudpolisieman se positiewe gesindheid val op.

“Dit is nou ’n goeie tyd om te besin,” sê hy oor die 21 dae inperking weens die korona­virus. “Elke slegte ding het ook sy positiewe kant.”

Du Plessis, wat bekend is om die pragfoto’s en sy lewenservarings wat hy op sy Facebook-blad deel, het die afgelope tyd foto’s van sy skilderye geplaas – pragtige pastelsketse geïnspireer deur sy lieflike Oos-Vrystaatse foto’s.

Hy het van kleins af ge­teken onder aansporing van sy pa, Hans, en was drie jaar oud toe hy sy eerste skets gemaak het. Dit was van ’n tatoeëermerk van ’n vrou wat sy oupa op sy arm gehad het. Du Plessis sê gou sy oupa het later jare sleg gevoel oor dié merk op sy arm.

Kort voor lank was die kombuiskaste in sy ouerhuis vol sketse. Hy het graag potloodsketse van blomme en gesigte gemaak. “Destyds was my twee gunstelinggesigte om te skets dié van Kennedy en Verwoerd.”

Toe die kombuiskaste vol ge­teken was, verskuif hy sy fokus na die binnekante van die hangkasdeure – hier het hy die Vatikaan se muurskilderye geskets.

Hoewel hy buite Bloemfontein gebore is, het die gesin – sy pa was ook ’n polisieman – kort ná sy geboorte na Durban verhuis. In die begin van sy matriekjaar het die gesin na Krugersdorp verhuis, waar hy aan die Hoërskool Monument matrikuleer het.

Du Plessis, wat hom aan die einde van 1973 by die polisie aangesluit het, het van die laat 1970’s af ’n paar jaar lank met olieverf gewerk en toe met droë pastelle.

Die selfportret wat Thys du Plessis in die vroeë 1980’s met pastelle gemaak het.
Thys du Plessis se pastelskilderye waarvoor hy inspirasie kry van die foto’s wat hy die afgelope jare geneem het.
Pragtige kosmosse wat Thys du Plessis met pastelle geskets het.
’n Plaashek staan verwelkomend oop in dié kunswerk van Thys du Plessis.
Thys du Plessis se pastelskilderye waarvoor hy inspirasie kry van die foto's wat hy die afgelope jare geneem het.
Een van die pastelsketse wat Thys du Plessis gemaak het om sy gesigsketsvaardighede op te skerp.

In 1981 het hy sy laaste pastelskets gemaak – ’n selfportret van die foto op sy polisie-aanstellingsertifikaat. Ná nog ’n paar jaar waarin hy proteas, seetonele en wynplase met olieverf geskilder het, het hy in die middel 1980’s ophou skilder. Hy het toe op sy fotografie gekonsentreer.

Sy polisieloopbaan het hom oor die land heen geneem totdat hy in Julie 1992 om mediese redes met pensioen is ná ’n motorongeluk. Nadat hy uit die polisie is, het hy onder meer twee kitskosrestaurante bestuur, spyseniering gedoen en groente aan huishoudings verskaf.

In 2006 het hy teruggekeer na die Vrystaat en deesdae beskryf hy homself as ’n “afgetredene wat op ’n plaas in die distrik Senekal woon.

“Almal wou altyd weet wanneer begin ek weer skilder. Ek het maar altyd gesê dit is ’n projek vir later. Maar onlangs het my priester hier by my gekuier en ook gevra wanneer gaan ek weer begin skilder. Dit het my laat dink dit is nou ’n goeie ouderdom (63) om weer te begin.”

Sedertdien het hy pragtige landskappe van pastelle gemaak. Hy slyp egter nou sy vaardigheid in die skets van portrette, aangesien hy sketse van sy kleinkinders wil maak.

Hy vertel hy het altyd sy skilderye weggegee omdat hy nie die prys kon bereken nie en só het dit in baie mense se versamelings beland – pasella! Hy het egter sy huiswerk gaan doen en die formule gekry waarvolgens pryse be­reken word.

“My eie gewete is my waghond.”

Du Plessis is vanjaar 29 jaar getroud met Hanlie, ’n nooi Fincham van Douglas. Hulle het sewe kinders van wie die oudste seun oorlede is, en 16 kleinkinders.

Meer oor:  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.