“Tye soos dié (Covid-19) is ongekaart en ons weet nie wat om te doen nie.” Só som dr. Arnold Smith, leraar van die NG gemeente Steynsrus die tyd waarin nou geleef word, op.
Hy verwys spesifiek na die gemeente se 110de bestaansjaarvieringe einde Junie wat weens die inperking in die slag gebly het. Die gemeente kon hierdie mylpaal intussen darem met ’n Jubelfees met ’n virtuele komponent – goedere kon vooraf bestel word – vier. “En eindelik het ons beter gedoen as in die verlede! Ons het net die samesyn gemis.”

Die huidige kerkgebou van die NG kerk Steynsrus se hoeksteen is in 1928 gelê en die gebou is in 1930 ingewy. Foto’s: Verskaf
Smith vertel nadat die kerke in Maart moes toemaak, het hy dadelik begin met dienste op WhatsApp en YouTube – “Ons het Pinkster én Hemelvaart só gevier.” ’n Nuwe gemeenteDie NG gemeente Steynsrus is op 30 Junie 1910 in ’n sinkgebou op Lovat-stasie gestig nadat in 1909 besluit is om ’n dorp op die plaas Modderfontein tot stand te bring.
Dele van die gemeentes van Kroonstad, Lindley, Senekal en Ventersburg het by die nuwe gemeente ingeskakel.
Die eerste kerkgebou met 800 sitplekke – waar die Pres. M.T. Steyn-saal vandag is – is op 1 Junie 1912 in gebruik geneem.
Pres. Steyn, na wie die dorp genoem is, het Steynsrus in November 1911 besoek en die hoeksteenlegging waargeneem. Hy het ook ’n beroep op gemeentelede gedoen om ruim by te dra sodat die kerkskuld gou gedelg kan word. Hierop het die president self ’n goue pond in die kollektebordjie geplaas.
Die gemeente het in November 1912 sy eerste leraar, ds. A.L.J. van Rensburg, ontvang.

Die NG gemeente Steynsrus het onlangs sy 110de bestaansjaar met ’n jubelfees gevier. Van links is die leierouderling en -diaken, Frik en Welna Richter, en die leraarspaar, Rosa en dr. Arnold Smith.
Nadat die idee van ’n nuwe kerkgebou reeds in 1919 deur ds. Van Rensburg by die gemeente gelaat is, is in Januarie 1928 ’n kontrak gesluit met die argitek Gerard Moerdyk en die kontrakteur C.V. Spalding. Die koste van die kerk sou £14 400 wees. Die hoeksteen is in April 1928 gelê deur ds. J.R. Alheit, die tweede leraar van die gemeente.
Onder die hoeksteen is ’n konfytfles met twee koerante, Die Volksblad en The Friend, asook muntstukke van daardie tyd geplaas vir toekomstige geslagte.
Volgens die gemeente se eeufeespublikasie wat in 2010 verskyn het, sou Alheit self inspring en help bou onder Moerdyk se toesig toe die kontrakteur bankrot gespeel het. “Ds. Alheit het so saam met die groeiende mure opgegaan boontoe, want hy wou baie graag self die haan op die toring sit – en die haan het hy toe werklik self opgesit!”
Eindelik is die gebou in Februarie 1930 ingewy.
Die gemeente het in 2010 sy eeufees met ds. Quintes Scholtz as leraar gevier.
- Die huidge leraar, dr. Arnold Smith, is die gemeente se 17de predikant. Bron: Steynsrus NG gemeente 1910-2010: ’n Eeu tot eer van God.