Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Nuwe skoolhoof vir BHS het ‘groot passie, ywer’

Mnr. Moolman Olivier (57), die Hoërskool Burgersdorp (BHS) se nuwe hoof, het op 1 September 2020 in sy nuwe pos by die skool begin.

Mnr. Khotso Sengoatsi, onderwysontwikkelingsbeampte van die Oos-Kaapse onderwysdepartement in Sterkspruit, het Olivier, sy vrou, Rianna, en hul dogtertjie, Janie, die vorige dag amptelik aan BHS kom voorstel. Olivier, ’n boorling van die Langkloof, het aan die Hoërskool McLachlan in Joubertina gematrikuleer voordat hy aan die Universiteit van Stellenbosch (US) sy B.A.(LO)-graad en hoër onderwysdiploma behaal het. Nadat hy sy diensplig in Oudtshoorn voltooi het, het hy vir vier jaar geskiedenis en aardrykskunde gegee aan die Hoërskool Brandwag in Uitenhage. As sportman van formaat trek hy die aandag van Transnamib (die voormalige Spoorweë wat geprivatiseer het) in Namibië en aanvaar hul werksaanbod. Met Windhoek as sy basis het hy tussen 1990 en 1993 oor die hele land by verskillende ou spoorwegstasies gewerk. Gedurende hierdie periode het hy 16 spoorwegsokkerspanne op die been gebring en twee maal met hulle na Malawi en Zimbabwe getoer. Hy het tydens sy Namibiese verblyf in 16 rugbytoetse losskakel vir Namibië gespeel en was ook deel van die span wat na Engeland en Frankryk getoer het.

Die Hoërskool Burgersdorp se nuwe hoof, mnr. Moolman Olivier (tweede van regs), het op Lentedag in sy nuwe pos begin. Mnr. Khotso Sengoatsi (regs) van die Oos-Kaapse Onderwysdepartement het hom aan die gemeenskap voorgestel. Saam met hulle is sy dogter, Janie, en sy vrou, Rianna. Foto: Facebook

’n Advertensie in Rapport vir ’n onderwyspos aan die Hoër Tegniese Skool Daniël Pienaar in Uitenhage het sy aandag getrek. Ná sy suksesvolle aansoek keer hy terug na Suid-Afrika waar hy hierna vir 27 jaar aan hierdie skool, op 125 jaar die oudste tegniese skool in die land, verbonde was. Benewens akademiese vakke soos geskiedenis en aardrykskunde was Olivier hier ook die hoofsportorganiseerder. Gholf en rugby het onder hom resorteer en hy het Springbokke soos Jacques Potgieter en Dewald Potgieter opgelewer. Onder sy leiding het die skool se gholfspan ook die OP twee agtereenvolgende jaar by die SA kampioenskappe verteenwoordig. Benewens dat hy vele rugbytoere gereël het, was hy die organiseerder en Daniël Pienaar die gasheer van die groot Noord-Suid Rugby-derby waar 32 rugbyspanne, waarvan 16 uit die noorde en 16 uit die suide, met mekaar meegeding het.

Olivier is beskeie oor die feit dat hy ook ná sy terugkeer uit Namibië in 1994-’95 losskakel vir die OP gespeel het. Later het hy vir sewe jaar op interprovinsiale vlak gholf gespeel vir die OP plattelandse span. Met ’n rekord van nege kolhoue op sy kerfstok waarvan een elk in Windhoek, St Francisbaai, Wedgewood (Port Elizabeth) en ses in Uitenhage, is dit geen verrassing dat hy reeds tuis is by die plaaslike gholfklub nie.

“Ek het ’n groot passie en ywer en wou bitter graag ’n skoolhoof geword het. Ek het verlede jaar op 6 November om die pos aansoek gedoen. Met Covid-19 ensovoorts, het ek niks gehoor nie, maar toe laat weet hulle my drie weke gelede ek het die pos gekry! So het ek op Lentedag ’n nuwe begin gemaak,” sê hy. “Die mense is vreeslik gaaf hier, maar dit is maar ’n aanpassing van ’n groot plek na die platteland. Dan het ’n mens daarby maar ook die vrees vir die onbekende. My grootste visie is dat die leerlinge op alle gebiede presteer en om Burgersdorp en die gemeenskap op my hande te dra. Én dat hulle ’n brand name word in hierdie omgewing.”

Sy vrou, ’n haarkapper, werk nog in Uitenhage en sy en hul laerskooldogtertjie bly voorlopig nog daar.

“Ek woon tans in die koshuis, maar is op die uitkyk vir ’n huis om te koop.”

Hy sien daarna uit dat hulle dan so gou moontlik daarna by hom sal kom aansluit.

Meer oor:  Skoolhoof  |  Kontrei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.