Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Ou skoolgebou kry nuwe lewe

’n Argitek van Somerset-Wes, in samewerking met ’n plaaslike argitek, is betrokke by die opknapping van die erg geplunderde en ongebruikte skoolgebou in Vosburg.

Marcus Smit, wat die afgelope drie jaar ’n wegbreekhuis in dié Karoo-dorp besit, werk saam met die Vosburgse argitek Douw G. Swart aan dié projek van Louise Wood.

Wood het sowat 18 maande gelede teruggekeer na haar geboortedorp en het besluit om die skool, destyds die Middelbare Skool Vosburg, te laat opknap en in te rig as ’n opleidingsentrum vir mense van Vosburg en die omgewing.

Smit sê die skool is in die tipiese Herbert Baker-skoolstyl gebou wat gebruik is vir baie geboue van die departement van openbare werke en onderwys in die tydperk tussen ongeveer 1910 en 1930. “Die skool is gebou teen ’n koste van £5 850 en is geopen op 13 Oktober 1922. Volgens een skrywe is die planne opgetrek deur lede van die skoolraad (mnre D.G. Steyn en C.J. Mangold), maar in my beskeie opinie moes daar ’n argitek betrokke gewees het, en het die twee here dalk net die basiese behoefte van die skool vir die argitek gepen.”

Opruimingswerk word reeds gedoen op die skoolterrein in Vosburg.Foto: Marcus Smit

Hoewel reeds met opruimingswerk op die skoolterrein begin is, sal die werklike werk begin wanneer finansiering gefinaliseer is. Smit en Swart is egter reeds besig om dokumente voor te berei waarop kwotasies verkry kan word.

Wood beoog om leergeleenthede in Vosburg te verskaf aan kinders en matrikulante wat nie universiteit toe kan gaan nie. Opleiding sal ook aan plaaslike vroue, wat nie werk kan kry nie, verskaf word.

’n Spa word ook op die perseel beplan wat werk aan sowat 16 mense sal verskaf. Die aanplant van ’n groentetuin op die perseel word ook beplan.

Volgens Smit gaan die bestaande struktuur gebruik word vir die inrig van ses klaskamers, ’n personeelkamer, ’n administrasiekantoor, ’n kantoor vir die hoof van die beplande akademie, pakkamers en ’n uitstalruimte vir tentoonstelling en die verkoop van studente se werk.

Moeite gaan gedoen word om die gebou so ver moontlik na sy oorspronklike toestand met oorspronklike afwerking te restoureer. “Die sukses hiervan sal afhang daarvan of genoeg geld ingesamel kan word om duur artikels soos die oorspronklike houtskuifvensters te installeer.”

Van links is Marcus Smit, argitek, Marietta van der Merwe wat van sub A tot st. 8 in Vosburg op skool was, en Charles van Rensburg, die oudste leerling van die skool wat nog hier woon.Foto: Verskaf
Louise WoodFoto: Verskaf

Wood sê dit is ’n reusetaak om die gebou op te ruim. Die dorpsmense en boere help egter baie – veral deur werkers te verskaf. Só help die boere om die hout in die gebou te herwin vir die dak en het hulle ook die heining gehelp oprig.

Probleme met plunderaars het tot groot verliese gelei, maar danksy skenkings uit die dorp is ’n veiligheidskamera geïnstalleer en is dit nou iets van die verlede. Die SKA (Square Kilometre Array) gaan ook teen einde September kom help om die gebou se dak op te sit.

Volgens Wood wil sy graag teen volgende jaar minstens twee klaskamers gereed hê. Op 19 Maart 2021 word die skool se eeufees met ’n vlotparade gevier. Die Saterdag word ’n gesinsdag gehou en die aand tree Steve Hofmeyr op. ’n Steak-ete en dansparty word ná die vertoning gehou. Die geld wat met Hofmeyr se vertoning ingesamel word, gaan aan die boere in die distrik. 10% hiervan gaan egter teruggeploeg word in die opknapping van die skoolgebou.

  • Vir meer inligting, stuur e-pos na Wood by louisewood4444@ gmail.com.
Meer oor:  Vosburg  |  Somerset-Wes  |  Kontrei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.