Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Pragalbum versprei vir nageslag van Cilliers-familie

’n Pragalbum oor die plaas Winddam in die distrik Lindley word tans elektronies landwyd en in vyf vastelande versprei aan afstammelinge van die Cilliers-familie wat voorheen die plaas bewoon het. Dit is deur die ini­siatief van Cilliers Willers, nie-amptelike argivaris van Lindley se Cilliers-familie en kleinseun van Jan en Helen Cilliers, eerste eienaars van Winddam.

My pa, Jan Cilliers, gebore tydens die Anglo-Boereoorlog, werk destyds as voorman vir ’n Engelse boer. Hy moet die nuwe onderwyseres van die plaasskool Brakdraai op die plaas Landmetersmoeite, distrik Lindley, op die spoorwegstasie gaan haal. Daardie nag droom hy iemand sê vir hom hy gaan sy “deel” ontmoet. Die nuwe juffrou, Helen Jonker, word toe inderdaad sy verloofde, wat ook, soos hy, op 5 Desember verjaar.

Sondagmiddae neem die paartjie ’n draagbare grammofoon na die wal van die Elandspruit en speel hul plate. Die otters kom luister saam. Helen skryf Jan se volle voorname en van vertikaal op ’n papier en maak daarvan ’n indrukwekkende vyfstrofegedig wat ook in die album verskyn. Hulle trou op 7 Julie 1925.

Vyf kinders word uit die besonder gelukkige huwelik gebore. Die drie oudste kinders is dogters en die jongste twee seuns.

Vanweë dekades se uiters harde werk koop my pa vier aangrensende plase. Hy vestig hom op die plaas Winddam, waar hy self ’n stewige huis bou. Die plaas se naam kom van die twee windpompe wat gedurig draai om die gronddam en die sinkdam vol te hou.

Die swart Queen-stofie wat my 75 jaar gelede in Winddam se eetkamer warm gemaak het, staan nou in die jongste kleinseun, dr. Gerhard Cilliers van Pretoria, wat in Oktober 50 word, se huis.

Jan en Helen Cilliers, eerste eienaars van die plaas Winddam, Lindley, aan wie die pragalbum opgedra is.

Sondagmiddae het ons klompie Cilliers’s op Winddam se noorderfrontstoep sit en lees. Dan het my ma briewe geskryf, dikwels aan familielede, want sy was een van ’n gesin van tien.

Godsdiens, liefde vir die grond, vir mekaar, hegte waardes, liefde vir skryf en lees en musiek is op natuurlike wyse in ons gesin gekweek. Vandag nog, as die een Cilliers by die ander een gekuier het en ons groet mekaar, sing ons eers een van die Cilliers-liedjies, soos “When You Come to the End of a Perfect Day”.

Die voorblad van die Cilliers-herinneringsalbum, saamgestel deur Cilliers Willers, kleinseun van die eerste Winddam-egpaar. Die skets van die plaashuis is gemaak deur een van hul drie dogters, Jansie.

In 1957 is al die kinders uit die huis. Toe besluit ons om maandeliks ’n “familiekoerant” na mekaar te stuur waarin elkeen ’n bydrae sal lewer. Later doen ons dit net by spesiale geleenthede, soos wanneer ’n familielid trou, of 50 of 60 jaar oud word.

Die koerant begin op blou skryfblokvelletjies. Vandag, 63 jaar later, publiseer ons dit elektronies, met tientalle foto’s en illustrasies. Dit beslaan maklik 80 bladsye en word ook oorsee versprei.

Die naam van die “koerant”, WWM, is gebaseer op drie van my pa se vier plase: WesteWindMoeite – Die Weste, Winddam en LandmetersMoeite. Die vierde plaas is Palmietfontein.

Hul vyf kinders het intussen hul eie gesinne gekry, sodat die totale getal afstammelinge van oupa Jan en ouma Helen Cilliers nou meer as 50 is – wat in Suid-Afrika, Amerika, Kanada, Griekeland, Australië en Nieu-Seeland woon. Daar is kinders, kleinkinders, agterkleinkinders en agteragterkleinkinders.

Oupa Jan is in 1967 oorlede en ouma Helen in 1984. So ook hul oudste dogter, Hannatjie, in 2006 en derde oudste dogter, Jansie, in 2013. Agnes (90) woon in Pretoria, Jonker (84) in Klerksdorp en Stoffel (81) in Bloemfontein.

In 2003 het die vyf kinders en hul gades met ’n kwartaalblad begin wat hulle rondom ’n tema uitgee en sirkuleer. Hulle noem dit Skakels.

Die liefde vir Winddam het hul kleinseun Cilliers Willers genoop om deur die tientalle albums van Skakels en WWM te sif en ook om ’n agtergrond te skryf – sodat die lang geskiedenis van hierdie Riemland-plaas, Winddam, opgeteken kon word in ’n gratis pragalbum wat 55 bladsye en tientalle foto’s en illustrasies beslaan.

Hy noem dit tereg “ ’n kleinood van herinnering”, want helaas, die Cilliers-familie het vandag nie meer toegang tot hul geboortegrond nie.

Meer oor:  Jan Celliers  |  Lindley  |  Winddam  |  Pragalbum  |  Cilliers-Familie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.