Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Projek help gesinne in nood al vir 34 jaar

In 1987 het die Sonskyn­projek in Welkom met net twee gesinne begin, en 34 jaar later word 30 gesinne versorg.

Die “moeder” en stigter van die projek, Alet Viljoen, sê dit was nie altyd ’n maklike taak nie, maar die vreugde om mense te help maak dit die moeite werd.

“Op 3 Februarie bestaan die projek 34 jaar. Die projek help gesinne in nood. Elkeen van my families woon in huise, buitekamers of by iemand in ’n kamer,” sê Viljoen.

Maar die projek gaan nie net om kospakkies en klere uitdeel nie.

“Ons probeer help met werk, ons help om hulle terug te plaas in die samelewing om selfversorgend te raak,” sê Viljoen.

“Ons deel die families se glimlagte, hartseer en pyn, veral as hulle sonder ’n inkomste sit weens afleggings of as ondernemings sluit. Oor die jare heen was ons daar vir die Goudveldse mense in nood.

“Die afgelope jaar was vir niemand maklik nie, en veral nie vir die projek wat soveel mense in nood moes bystaan nie. Die eerste drie maande van inperking in 2020 was ’n groot uitdaging, maar dit was ook ’n groot voorreg om deel te kon wees om gesinne te help waar nodig. Met die hulp van CIA (Churches in Action) kon ons baie mense help,” sê sy.

In die eerste 127 dae van die inperking het die projek 12 700 borde kos (100 borde kos ’n dag) uitgedeel.

Hulle het 8 400 km net in Welkom afgelê, 40 kospakkies vir gesinne bymekaargemaak en 40 babas van melk en doeke voorsien.

Alet Viljoen se Sonskynprojek bestaan vanjaar 34 jaar. Sy en haar vrywilligers versorg daagliks 30 gesinne (altesaam 156 mense). Foto: Verskaf

In die vierde maand van die inperking kon hulle met die hulp van boere 30 gesinne oor die land heen vestig en heeltydse werk vir hulle kry. Die projek het ook vir 38 mense in Welkom werk gekry.

In 2019 het die projek 100 gesinne (320 mense) gehelp. “Met die inperkings en swak ekonomie moes ek na 30 gesinne (156 mense) afskaal. Hiervan was ses babas. Sodra hulle op hulle eie kan aangaan, sal ek weer ander gesinne probeer help,” sê sy.

Die grootste ligpunt van verlede jaar se inperkings en afskalings was die omgee-dae in Desember. “Ons kon vir 230 mense elk ’n geskenkpakkie, lekkergoedpakkie en bederfpresentjies gee. Die getal mense op ons boeke is nie net ’n syfer nie, hulle is mense net soos ek en jy,” sê Viljoen.

Die Sonskynprojek het ook ander projekte wat naaldwerk, brei, hekel, houtwerk, matriekafskeidgesellighede, ’n terug-skool-toe-projek en ’n babaprojek insluit.

“Ons bied ook daagliks geestelike verryking aan gesinne en kook elke dag vir 40 bejaardes. Ek sê duisend dankies vir elkeen wat betrokke is, julle maak ’n groot verskil in ander se lewe. Dankie ook vir Jan Engelbrecht, my seun, vir al sy hulp en bystand. Al die lof en eer net aan God,” sê Viljoen.

  • Die berig het eers in Vista verskyn.
Meer oor:  Welkom  |  Kontrei  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.