Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Reünie in Eensgevonden se skooltjie gehou

Verlede Saterdag was daar vir die eerste keer in dekades weer lewe en opgewonde stemme in die ou Eensgevonden-plaas-en-spoorwegskooltjie tussen Brandfort en Theunissen.

Oudleerlinge van Eensgevonden. Voor van links is Etienne Terblanche, afgetrede siviele ingenieur van Johannesburg (leerling van 1955 tot 1960), Ritha Engelbrecht (Ward), afgetrede bestuurder van die melkdepot in Theunissen (1942-1950), Sep du Bruÿn, afgetrede prokureur van Kroonstad (1933-1939), Fred Hebler, afgetrede boer van Brandfort (1950-1956), en André van den Berg (Terblance) van Bloemfontein (1949-1955). Agter is Fanie Ward, oudskoolhoof van Petrusburg (1959-1962), Kloggo Kotze, afgetrede landboubemarker van Theunissen (1950-1956), Eugene Terblanche, landboubemarker van Bothaville (1959-1962), Koos Pienaar, leierboer en stadsraadslid van Theunissen (1955-1961), Hanlie Human (Bonnet) van Verkeerdevlei (1955-1962), Jannie du Plessis, leraar van die NG Moederkerk in Brandfort (1956-1962), Eugene Terblanche, afgetrede bankbestuurder van Pretoria (1952-1957), en Gideon du Plessis, boer van Bloemfontein (1952-1958). Foto’s: Dirk Kok

Altesaam 13 oudleerlinge van die Vrystaat en Gauteng, van hul familie en ander wie se voorsate aan dié ysterklipskooltjie verbonde was, het die eerste Eensgevonden-reünie sedert die skool se sluiting in 1962 bygewoon.

Met dié fiets van hom het Koos Pienaar van Theunissen jare lank van die plaas af skool toe gery. Hy is ook op die fiets saam met skoolmaats van Theunissen af al die pad Oos-Londen toe vir ’n seevakansie. Die baadjie aan die kapstok was sy skoolbaadjie.

Dié heel eerste reünie was ’n blye weersiens van oud-Eensgevondeners én ’n huldiging van wyle Herman (Boertjie) Bonnet, wat van 1930 af tot die skool se sluiting 32 jaar lank die hoof en onderwyser was. Bonnet is in 1971 oorlede.

Boodskappe van onthou en van dankbaarheid is op die swartbord geskryf. André van den Berg, van Bloemfontein, deel haar herinneringe.

In die ou eenvertrek-skooltjie van ysterklip, waar geslagte kinders van plase en van die nabygeleë Eensgevonden-stasie tot st. 7 onderrig is, is staaltjies van toentertyd vertel en herinneringe gedeel van die dae toe hier nog te voet, te perd of met die treppie skool toe gegaan is.

Onthou julle? Kobus Terblanche (staande) van Pretoria deel sy herinneringe van die Eensgevonden-skool.

Sep de Bruÿn (93), oudprokureur van Kroonstad, was die oudste oudleerling op die reünie. Hy het sy Bybel saamgebring wat hy in 1934 met die verskyning van die eerste Afrikaanse Bybel hier by die skool persent gekry het.

Vir ’n beter onderwyser as Bonnet kon hulle nie vra nie. Hy het ’n hart vir kinders en vir die onderwys gehad, en hulle goed op die lewe voorberei – geestelik en akademies, het die oudleerlinge gesê.

“Hierdie skool van ons het karakter gebou,” het Koos Pienaar, leierboer en stadsraadslid van Theunissen gesê.

Hanlie Human van Verkeerdevlei (voor), dogter van Eensgevonden se jare lange hoof, wyle Herman (Boertjie) Bonnet. Regs is Bonnet se een kleinseun, ook Herman, ’n boer van Brandfort. Links is Fanie Ward van Petrusburg, die jongste oudleerling op die reünie en op sy dag self ’n skoolhoof, en agter is Allen Simpson, eienaar van die plaas St. Barnard, waarop die skooltjie is. Human was, soos haar pa, dekades lank ’n onderwyser.

Hy en Etienne Terblanche, afgetrede siviele ingenieur van Johannesburg, het maande lank aan die reünie gereël.

Die Eensgevonden-skool is ná die Anglo-Boereoorlog gebou. Pleidooie in die 1960’s aan die regering om meer spoorweggesinne hierheen te stuur sodat die skool kan voortbestaan, het op dowe ore geval en die skool is aan die einde van 1962 gesluit.

Die eenvertrek-Eensgevonden-skool waar leerlinge van sub. A tot st. 7 saam onderrig is.

Die Eensgevonden-skool is ook die almal mater van prof. J.C. van der Walt, oudrektor van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), en sy broer Koos, oudhoof van Pretoria Boys’ High.

Skoolhoof en onderwyser duisend. Wyle Herman (Boertjie) Bonnet was van 1930 tot 1962 hoof en onderwyser van Eensgevonden.
Meer oor:  Vrystaat  |  Kontrei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.