Sowat vyf weke gelede het Johan Truter (68), ’n voormalige boukontrakteur en geregistreerde tekenaar, in Bethulie begin met die bou van ’n ekovriendelike sandsakhuis vir hom en sy vrou, Dianne (63).

Johan en Dianne Truter by die sandsakhuis wat hulle in Bethulie bou. Foto: Coreli Roos
Netwerk24 Foto: Coreli Roos
“Ek en Dianne het besluit dis nou of nooit,” sê Truter. “Dit was vir langer as 15 jaar my droom en ek het geweet dit gaan harde werk wees.”
Die egpaar, wat reeds vyf jaar in Bethulie woon, wou aanvanklik op ’n kleinhoewe bou en ’n gemeenskap daar vestig, maar het hul plan gewysig. Hulle het onlangs ’n geskikte erf geïdentifiseer en gekoop nadat hulle besluit het om eerder in die dorp te bou. Dit was belangrik om water op die erf te hê en voordat die bouwerk begin het, het hulle ’n boorgat laat sink.
Truter se 25 jaar ondervinding as ’n boukontrakteur in Johannesburg, sy kundigheid en sy uitgebreide ondervinding in die boubedryf, kom hom goed te pas met die beplanning en oprigting van die egpaar se droomhuis. As ervare tekenaar het hy ook die huis volgens hul persoonlike behoeftes ontwerp.
Hy moes baie navorsing doen voordat hy Sak & Pak in Rustenburg raakgeloop het wat die 5 000 sakke wat hy bestel het, vir hom kon lewer.
“Ek dink ons sal uiteindelik so 4 000 daarvan gebruik. ’n Mens moet aanpas en veranderings maak soos die werk vorder. Ons het oorspronklik beplan om die binnemure ook met sandsakke te bou, maar noudat ons sien hoeveel grond ons nodig gaan hê, het ons besluit om dit te verander en eerder die binnekant met pleisterbord (dry walls) te doen.”

Die deur- en vensterrame word ingebou. Foto’s: Verskaf
Omdat daar geen trekkerlaaigrawe (TLB’s) beskikbaar was toe die fondasies gegrawe moes word nie, het Truter van handearbeid gebruik gemaak. ’n TLB het later gekom vir die uitgrawe van ’n ondergrondse tenk, ’n waterstroom en ’n dammetjie.
Al die grond wat uitgegrawe word, word herwin en hergebruik om die sandsakke te vul. Die eiendom is dus self die bron en voorsiener van al die grond vir die hele huis.
Toe die werkers ongeveer ’n week nadat hulle afgeskop het, begin het om die sandsakke te vul, het hulle reeds die fondasie voorberei en met klip gekompakteer. “Die grond waarmee ons die sakke vul, word eers klam gemaak. Daarna word dit gestamp. Wanneer dit uitdroog, word dit dan baie hard,” verduidelik Truter.

Sakke word met sand gevul en gelê.

Nadat die oppervlak voorberei is, word die sementvloer gegooi.
“Om met die sandsakke te bou, vou ons die oop kant van die vol sandsakke om om hulle toe te maak. Die vou kom dan onder wanneer die sak in posisie gesit word, met ’n lyn doringdraad om dit te verstewig. Die mure is ongeveer 400 mm breed.”
Die span het met die konstruksie van die buitemure begin nadat die sementvloere gegooi en geset was. Die volgende stap was om die houtrame waarbinne die aluminiumrame pas, in te bou.
“Van die voordele van ’n sandsakhuis is dat dit koel is in die somer en warm in die winter en dat dit goed vloedbestand is,” sê Truter. Hy beplan om ’n sinkstaandak op te sit en hoop dat hy al die finale afrondingswerk binne en buite, asook die riolering en elektrisiteit sal kan voltooi sodat hulle “voor die winter” in die huis sal kan nesskop.